Luister:  Griekwagebed –  Vedeel my klere

 namakwa_kokerboomwoud_annelize-brits_stiltetyd.jpegVedeel my klere

Psalm 22

My God, my God, hoekom
het U my so alleen gelos?
U hoor niks: ek roep innie dag
innie nag bly ek okkie stillie.

U woon oenerie gesing van Israel.
Op U hettie grootmense gevetrou
en as hille vi U geroep het,
het U na hille se roep gelyster.

Ma ek is mos nou nette wurm
met wie die hele mense spot,
hille steek hille se tong yt en sig:
Lossit virrie Jirre, lat Hy hom red,
Hy lyk mos hierielike mannetjie.

U’t my yt my ma ytgetrek
en my tenie pram gelat lê,
van my ma se skoot af
is U hoeka al my Jirre.

Sit nou net hie neffens my;
nettie ver van my affie,
want die nood is by my en
dasie ’n handlanger naby nie.

Die beerlou het my gebekryp
en wolwe het my geomsingel
hille het hille se bekke oopgerek
sos louense wat bril en veskeer.

Ek is ytgemors sos water,
smaak my geraamte sit los,
my hart lê sos warm vet
in my ribbekas opgesmelt.

My krag is droog sosse potskerf,
my tong plak aan my vehemelte
en U sit my neer innie stof vi dood,
ek is so maer, ek kan my ribbese tel.

Die mense die veag my en
hille kry lekker, hille spot,
hille skid en goi die dice
en kyk wie vat my klere.

Ma Jirre, moet nou nie ver ganie,
my Krag, kom help my gou yt,
rik my ytie mag vanne hond, ytie
bek vanne lou en horing vanne bul.

Ek wil vi my broerse vetél van U
se pryslike naam, al onse geslagte jyg,
want U ag ok onse groot ellende,
U vestaan nou dies wat ellendig is.

Ek gjee vi U lof byrie Jaarliks
voor al dielikes wat vi U kjen.
Dies wat nou voor U deetlik is,
hille sal nou opstaan en U loof.

Lat hy wattie Jirre soek, vi altyd lewe
die hele wêreld sal dit sien en hille
sal hille alman tottie Jirre bekeer,
allie nasiese sal virrie Jirre bid.

Want die kapteinskap issie Jirre s’n,
Hy’sie Kaptein vannie hele mense.
Die grootmense sal eet en bid,
dies wat loop dood, sal ok kniel.

Die kjinnerse vetél hille se kjinnerse
hoelat hille alman die Jirre dien,
hille sal preek oor Hy se goedgeit:
Hierielike Jirre, het alles gedoen!

Voorgelees en opgeneem deur Veronica Geldenhuys uit die boek “Karos orie dyne”  geskryf deur Hans du Plessis en uitgegee deur Lapa Uitgewers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.