Luister: Retief Burger se bemoedigende boodskap vir SA

Nee, lag die leraar en musikant Retief Burger, hy het nie iets geweet wat niemand anders geweet het toe hy sy album kort voor die koronavirus (Covid-19) die wêreld bykans tot stilstand geruk het, opgeneem en uitgereik het nie.

“Die Here het geweet,” sê hy beslis. “Hy het in Augustus verlede jaar, wat gewoonlik die besigste tyd van die jaar is vir my, dit op my hart gedruk om so gou as moontlik ʼn album uit te reik.”

Geld en liedjies was daar nie, sê Burger, maar kort na die gevoel van dringendheid omtrent ʼn album oor hom gekom het, het hy die geld gehad en die liedjies is geskryf.

“Ek het die Atterbury-teater in Pretoria in geloof bespreek en het op 21 Oktober ʼn uitverkoopte vertoning gedoen waartydens die liedjies vir die album opgeneem kon word. Die Here het deur alles net op ʼn ongelooflike wyse voorsien,” sê Burger.

Min het hy egter geweet hoe relevant die tema van die album getiteld Oorwin in 2020 sou wees. Die album is op 14 Maart, ʼn dag voor pres. Cyril Ramaphosa die uitbreking van die koronavirus in Suid-Afrika tot ʼn nasionale ramp verklaar het en talle voorsorgmaatreëls vir die bekamping van die virus ingestel het, in die Kaap vrygestel.

“Dit is nie ek wat slim beplan het nie – ek was net gehoorsaam en het die Here se stem gevolg.”

Hy sê hy wil hê die album moet dien as ʼn baken van hoop. “Mense het ʼn vrees vir die dood as gevolg van die virus wat versprei word, maar ʼn gelowige hoef nie die dood te vrees nie,” sê hy.

Retief Burger. (Foto: Facebook)

Die album bevat agt Afrikaanse snitte, waarvan “Jesus die Oorwinnaar” ʼn vertaling van ʼn Nederlandse gewyde liedjie is, asook “Daar is ʼn naam”, ʼn vertaling van die groep Bethel se Engelse liedjie “There is a name”.

Die ander snitte het hy saam met sy vrou, Isabel, en ʼn paar vriende geskryf. Isabel is 22 weke swanger met hul derde spruit, ʼn dogtertjie wat Mischke Elizna sal heet.

Haar boeties, Wynand (4) en Carlu (2), is baie opgewonde oor hulle babasussie se koms. “Die seuntjies is baie liefdevolle mensies. Ons wou baie graag ʼn dogtertjie gehad het, so ons is uit ons sokkies geseën,” vertel hy.

Burger sê die terugvoer wat hy tot dusver oor die album gekry het, is oorweldigend. “Dit is ongelooflik hoe dit mense bemoedig te midde van hierdie storm. Dit gee mense nuwe perspektief en verwoord wat in hulle harte aangaan. Mens sal sweer ek het die album net hiervoor geskryf!” skerts hy.

  • Retief Burger het ʼn bemoedigende boodskap vir Suid-Afrika met Maroela Media gedeel. Luister na dié boodskap bo-aan die berig.


Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.