Gedagte vir die dag: Maak die beste van elke geleentheid

Foto: pixabay.com

In julle verhouding met buitestanders moet julle slim optree deur elke kans te benut. Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee. (Kolossense 4:5-6)

Paulus was dalk in die tronk, maar sy boodskap kon nooit ingeperk word nie. Hy het die gelowiges in Kolosse gevra om te bid dat hy selfs as gevangene sou kon voortgaan om die boodskap van Christus te verkondig en hulle aangespoor om met wysheid op te tree teenoor die mense wat nog buite die gemeente is.

“Hoe doen ’n mens dit?” sou hulle kon vra. Paulus se antwoord was: “Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee” (Kol. 4:6).

Aan die einde van sy versoek dat vir hom gebid moet word, gee Paulus ’n aanduiding van hoe hy, en ons, met God kan saamwerk wanneer Hy deure vir ons oopmaak. As die aard van ons gesprekke vriendelik is, beteken dit dat ons iets van God se liefde en genade met ander deel op ’n minsame wyse wat begrip toon vir ander. Gesprekke wat van goeie smaak getuig, sal aangenaam wees om aan te hoor en respek toon vir die persoon met wie jy praat.

Om met wysheid op te tree teenoor ongelowiges is nie maklik nie. Jy sal dikwels nie weet hoe jy elkeen reg kan antwoord nie. Maar God verwag nie volmaaktheid nie. Al wat Hy vra, is sensitiwiteit vir die Heilige Gees, om op jou hoede te wees vir sonde en versoeking, om fyn te let op wat jy sê, en gereed te wees om die beste gebruik te maak van elke geleentheid wanneer God deure vir jou oopmaak.

Op watter manier kan jou gesprekke nog vriendeliker wees en van wysheid en goeie smaak getuig sodat jy elke geleentheid vir getuienis ten beste kan gebruik?

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

GL ·

Dankie vir als Here. Ek bid vir wysheid om meer vriendelik te wees teenoor ander altyd. Soms is dit nie maklik. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.