Gedagte vir die dag: Moet jou nie bekommer nie

Blomme_Veld_Berge_ReintDykema.jpg

Foto: Reint Dykema

As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? (Matteus 6:30)

Jesus was ’n goeie prediker, Hy kon sy gehore vir dae aaneen boei met sy gelykenisse en vars, nuwe uitsprake. Hy kon ook digterlik en poëties raak – soos in die bergpredikasie en spesifiek in hierdie gedeelte. Met pragtige beeldspraak troos Hy die menigte wat in die laagte vergader het – moeë, hulpbehoewende mense wat daagliks deur sleur en sorg afgetakel word.

Hy wys vir hulle die natuur rondom hulle: die wilde voëls wat kos versamel, die pragtige veldlelies mooier as Salomo in sy koninklike klere, die grasse met hul fyn versierde sade, al die kleure en geure van die veld. Hulle is vir God veel meer werd as die voëls wat Hy versorg en die blomme en gras wat Hy met soveel skoonheid beklee. Waarom hulle bekommer oor kos en klere en al die ander dinge waaroor ongelowiges hulle moeg maak? Hul Hemelse Vader weet wat hulle nodig het en Hy gee dit vir hulle, maar hulle moet hul allereers beywer vir die koninkryk van God. Dit het meer waarde as enigiets anders.

Ons maak te veel moeite met ons materiële besittings. Ons begeer om in die mode te wees, ons koop nuwe meubels voor die oues uitgedien is en nuwe karre voor die oues afbetaal is. Ons wil aantrek en uiteet en vakansie hou en doen dit alles op skuld. Skuld gee jou slapelose nagte. Die toekoms lyk donker en voor jy jou kom kry, pryk jou naam op die swartlys. Jesus wil ons keer voor ons ons in skuldspirale vasdraai. Hy waarsku ons om ons nie moeg te maak oor al hier­die dinge en ons harte nie te verdeel met onnodige kommer nie.

Jesus sê: ‘Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie’ (Matt 6:34).

Liewe Here Jesus, vergewe ons dat ons ons oor nietighede bekommer.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Baie dankie vir die daaglikse Woord. Dit is so wonderlik om elke dag deur God se woord bemoedig te word.

Freda ·

Baie dankie vir die waar woorde. Ek het juis gesit en kwel oor nietighede toe ek die Stiltetyd van vandag oopmaak. Dit het dadelik getref, en die dag voel heelwat ligter.

Dawid ·

Die dat n mens altyd kwel oor more is so onnodig!Wend jou na die Hemelse Vader en Hy sal jou nooit in die steek laat.Dit is so n motivering dat ek elke dag nuwe moed kry deur God se woord bemoedig te word!AMEN

Magda ·

Elke keer as ek benoud raak en angstig raak moet ek myself herrinner wat Jesus sê ” moet nie bekommerd wees nie” Ek is in beheer. Dan raak ek rustig en weet ek moet stil raak. GOD IS GOOD. ALL THE TIME

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.