Gedagte vir die dag: Die motief vir ons goeie dade

see_skulpe_vrou_hand_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Hy het ons verlos, nie op grond van wat ons gedoen het vir ons vryspraak nie, maar slegs op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy vermag deur die reiniging van die weergeboorte en deur die Heilige Gees wat ons vernuwe. Hy het die Gees ryklik op ons uitgestort op grond van wat Jesus Christus ons Verlosser gedoen het. Só is ons vrygespreek deur sy genade, en het ons erfgename geword van die ewige lewe waarop ons hoop. (Titus 3:5-7)

Hierdie drie verse in Titus 3 bevat die hele evangelie in ’n neutedop: Ons is gered enkel en alleen op grond van God se genade teenoor ons. Toe Hy ons gered het, het Hy ons sonde afgewas. Ons is in geestelike sin weer gebore en het deur die Heilige Gees ’n nuwe lewe gekry. Die Gees is oorvloedig oor ons uitgestort, waardeur ons in staat gestel is om vir Christus te lewe. Ons is op grond van wat Christus namens ons gedoen het in God se oë regverdig verklaar. Daarom kan ons nou volkome seker wees dat ons die ewige lewe beërwe.

Dit, in kort, is wat Christene glo. Daar is geen ander godsdiens op aarde wat verlossing as ’n geskenk aan oortreders aanbied net op grond van Iemand anders se offer namens hulle nie. Geen ander godsdiens vereis van ’n mens níks as teenprestasie nie. Selfs ons geloof is ’n geskenk van God. Al wat ons uit dankbaarheid vir hierdie ongelooflike geskenk van ’n nuwe lewe kan doen, is om God lief te hê en aan Hom gehoorsaam te wees. Maar dit is ’n gevolg van God se liefde, nie ’n voorwaarde daarvoor nie.

Dink na oor God se verstommende genade en liefde wat Hy in Christus aan jou bewys het. Memoriseer die sleutelfeite van ons geloof sodat jy gereed is om dit met ander te deel wanneer die geleentheid hom voordoen.

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

Wanneer dit mens se hart tref wat die Here vir ons gedoen het, dan sal daar dade van dankbaarheid uit ‘n dankbare hart voortvloei, dit kan nie anders nie.

Von ·

Here Jesus ek staan elke dag in verwondering oor so n Groot Liefde….en dat ons dit nie verdien nie…dankie dankie Here vir genade uit U Almagtige hand

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.