Gedagte vir die dag: Murmureer

Stiltetyd-14.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Doen alles sonder murmurering en teëspraak (Filipense 2:14)

“Murmureer” is ’n heerlike woord: Jy hóór sommer die onvergenoegde gebrom van ’n morrende mens.

Nee, ons gebruik dit nie dikwels nie – en dis jammer, want dit vat ’n bepaalde houding so lekker vas. Soos die woordeboek dit omskryf: “ontevrede mompel, kla of mor”.

Murmureer is wat jy doen wanneer jy ondankbaar is. Dit beskryf ’n gesindheid wat geloof steel en beloftes op ’n afstand hou.

Die Israeliete, daardie ou woestyntrekkers, het gemurmureer selfs al is hulle uit slawerny bevry. Nogtans het die Here hul dors geles. Hulle het gemurmureer; nietemin het die Here aan hulle manna en kwartels gegee om hul honger te stil. Ten spyte van al die ondankbare gekla, het God in sy volk se behoeftes voorsien.

Maar op die grens van die beloofde land was hul murmurering die muur wat sou verhoed dat hulle kry wat God aan die begin aan hulle beloof het. Hul ondankbare gebrom het tot gevolg gehad dat hulle nie verder as hul eie vrese kon sien nie. Dit het hul geloof verstik en hul geloofsgeheue gekelder sodat hulle alles vergeet het wat hul Here vir hulle gedoen het.

Ondankbaarheid was die muur tussen hulle en die volheid van God se beloftes.

Paulus het iets van die tragedie van ondankbaarheid verstaan toe hy aan die gemeente in Filippi geskryf het. Sy raad aan hulle was om alles te doen “sonder murmurering en teëspraak” (Fil 2:14 – 1933/1953-vertaling).

Dalk het hy maar te goed geweet hoe murmurering aan ’n mens se geloof vreet. Hoe ’n gekla die lig wat gelowiges in die wêreld is, laat verdof. En hoe ondankbaarheid ons verander om net soos die ontaarde en korrupte wêreld te word waarin ons leef.

Miskien het Paulus geweet dat murmurering nie by God se kinders pas nie.

Mag “murmureer” tog net ’n woord wees wat ons af en toe in die Bybel raaklees! Mag dit nooit jou lewenshouding beskryf nie.

Ons reis deur hierdie wêreld se woestyn durf nie tevergeefs wees nie. Ons moet elke dag in dankbaarheid God se beloftes beleef, in die wete dat ons dit eendag in volheid sal ervaar.

Here, ek bely dat ek dikwels kla oor dinge wat vir my moeilik is. Help my om u beloftes in my woestynbestaan raak te sien.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerrie ·

Sonder teëstribbel, gebrom en onderonsies sal ek met geduld en tevredenheid my taak voltooi wat aan my opgelê is sodat ek nie langs die weg afdwaal of uitval nie. Here ek bid en vra met erns vir hierdie krag en geduld wat ek aan die dag moet lê om nie opstandig te raak vir kleinighede en struikelblokke wat ek op my pad moet oorkom nie. Amen.

Gerhard ·

Ek wonder hoe pas van die Psalms en bv Klaagliedere in by hierdie gedeelte ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.