Gedagte vir die dag: My beker vol seën

bid_kniel_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Here, U alleen is my erfenis, my beker van seën. U waarborg my lotsbestemming. ’n Pragtige plek is vir my afgemeet. Wat ek geërf het, is vir my mooi! (Psalm 16:5-6)

In die Bybelse tyd was grond meer as net ’n bate – dit was ’n manier om te oorleef. Om grond deur ’n erflating van die een geslag na ’n volgende aan te gee het verseker dat jou nageslag kos sou hê en vee kon aanhou. Vir die Israeliete het grond selfs ’n geestelike element bevat, want God se verbondsbeloftes sluit in ’n land waar Hy by hulle sou woon. Dit was veral waar vir die skrywer van hierdie psalm, koning Dawid, want die beloftes aan die volk sou deur sy familie waar gemaak word.

Hoe verstommend dan dat Dawid verklaar sy heel kosbaarste erfenis is nie sy grondgebied of sy ryk nie, maar God self. Dawid het gekies om sy hoop nie te plaas in wat God belowe het om vir hom te gee nie – nie in die seën nie – maar in God self. Sy verhouding met God het aan hom veiligheid en blydskap gebring. Dit was sy heel kosbaarste besitting.

In die Nuwe Testament lees ons dat ons mede-erfgename van Christus is, bestem om saam met Hom te deel in die heerlikheid wat van ewigheid tot ewigheid aan Hom behoort. Ons het die heel grootste skat ontvang, Christus self, en saam met Hom die ewige lewe wat nou reeds begin. Die plesiere van hierdie wêreld kan glad nie vergelyk word met die volheid van die blydskap wat ons in die Here se teenwoordigheid vind nie. Wat ’n skat het ons beërf! Kom ons hou liggies vas aan die tydelike seëninge wat God aan ons gee sodat Hy ons heel kosbaarste erfenis sal bly.

En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in sy heerlikheid. – Romeine 8:17

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here Jesus dat deur U kruisdood U vir my ewige verlossing bewerk het…my grootste erfenis…Amen

Linda ·

Dankie God, ons verdien niks maar U dink voortdurend aan ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.