Gedagte vir die dag: My genade is genoeg

koringveld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.  (2 Korintiërs 12:9)

Dalk lees jy hierdie maand se dagstukkies en jy wil vir my sê: “Ek het God lief, ek is ’n Christen, ek dien Hom, ek het nog nooit afgewyk van die waarheid sedert die dag dat ek Jesus aangeneem het nie, maar steeds ly ek.” Paulus het baie gely, soos ons ’n dag of twee gelede gelees het, en hy het sekerlik nie van die pad afgedwaal na sy Damaskuservaring nie. Wanneer dinge begin moeilik raak, wil baie mense teruggaan na hulle ou lewe toe. Moenie eens daaraan dink nie! Daar is niks goeds in jou ou lewe nie. Die Israeliete wou gedurig terug gaan  Egipte  toe.  Hulle het verkies om te vergeet van hulle slawerny, die wreedheid en hoe sleg hulle behandel is. Ons het almal, waarna ons verwys as, ’n selektiewe geheue. Om terug te draai is nooit ’n opsie nie. Daar is slegs een weg en dit is die weg vorentoe na ons beloofde land; die hemel.

Ja, daar is moeilike tye, maar Jesus sê vir ons: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.”  Ek het al met manne gepraat wat deur die vuurgloed gegaan het. Hulle is gewoonlik manne wat nie baie praat nie, maar  meestal  luister.  Jy ken die gesegde:  “God het ons twee ore en een mond gegee.” Ons is veronderstel om twee keer soveel te luister as wat ons praat. Die manne na wie ek verwys, het wysheid bekom deur hulle tye van beproewing en verdrukking.

As jy nog jonk is, kan jy van so iemand leer. Soek hierdie mense uit en luister na hulle lewenservarings. Laat hulle toe om jou te bemoedig wanneer jy deur moeilike tye gaan. Dit is wat Paulus vir die Christene van die vroeë kerk gedoen het. Hy het hulle besoek, geleer, aangemoedig en  somtyds bestraf as hulle van die waarheid afgedwaal het. Hy het briewe geskryf en hulle herinner aan wat hulle in Christus het en hoe hulle op grond daarvan moet lewe. God se genade is vir jou genoeg, ongeag die dinge waardeur jy vandag moet gaan.

My Vader, ek besef dat ek somtyds die handdoek wil ingooi wanneer dinge te veel raak. Ek weet dat om na die ou manier van lewe terug te gaan, nie ’n opsie is nie. Ek dank U vir die wonderlike belofte dat u genade genoeg is, en ek hou vas daaraan. Ek wil sterk eindig. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.