ʼn Kersfeesboodskap

kersfees creative commons wikimedia

Argieffoto “Nativity tree 2011” deur Jeff Weese, Flickr via Wikimedia Commons

Dis weer sulke tyd. Die geroesemoes, die lawaai, die koopmanie, miljoene liggies, partytjies, skuldmaak – want goedkoop geskenke is nie “goed” genoeg nie – en wat nog alles, want dis Krismis. Nie net vir mense nie, maar ook vir troeteldiere en dit maak nie saak wat daarvoor opgedok word nie. Krismis. Hêppie, hêppie Krismis.

Ons gaan vanjaar nie enige geskenke aan Kersfees koppel nie. Ons gaan geskenke uitdeel aan mense wat vir ons lief en dierbaar is – nie omdat dit Kersfees is nie, maar omdat ons vir hulle lief is. Ons kosbaarste geskenke sal waardering, liefwees en omgee en tyd vir mekaar wees.

Meer as 2 000 jaar gelede was Josef en Maria in Bethlehem. Ná ʼn moordende tog uit die noorde, deur Jerusalem tot in Bethlehem, waar die enigste verblyf ʼn stal, waarskynlik ʼn grot of oorhangkrans, was. Die Christuskind is daar te midde van ʼn eindelose gewoel en gewerskaf gebore en Sy naam was Jesus – die Verlosser van die wêreld.

Die wêreld waarheen die Redder vandag nog kom, het tans, net soos Bethlehem, nie plek en tyd vir Hom nie. Mense is so vasgevang in alledaagse najaging van doelwitte ten opsigte van werk en geldmaak. Tyd word ingeruim vir pret en plesier, sport en welverdiende vakansies. Daar word tyd gemaak vir sport en vermaak en sosiale mediaverslawing. Mense is besig, baie, baie besig.

Net soos Bethlehem se mense, kan ons ook vasgevang word in ʼn oorvol program, wat veroorsaak dat hart en verstand op eie belang fokus, in plaas daarvan om te fokus op die koms van die Redder van ʼn verlore mensdom. Kom ons maak in ons oorvol program tyd vir Jesus – die rede vir ons Kersfeesviering.

Nog ʼn jaar se uurglas is byna leeggeloop en soos altyd gaan dit vir party gepaard met baie vreugde en vir ander met bekommernis en hartseer. As dit vreugde is, laat ons ons in die Here verbly. As dit bekommernis is, laat ons ons bekommernis op Hom werp, sodat Hy vir ons rus kan gee. As dit hartseer is, neem God se belofte ter harte dat die wat treur, getroos sal word.

Mag Kersfees 2017 vir julle ʼn bron van vreugde vir vandag en die bron van hoop vir môre, 2018 wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.