Gedagte vir die dag: ’n Skat in die hemel

 Stiltetyd-14.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. (Kolossense 1:5)

Baie mense streef na selfverbetering, nie net op intellektuele en geestelike vlak nie, maar ook op materiële gebied. Ons versamel besittings en soek altyd na iets besonders; ons droom en bid soos Jabes om ons grondgebied te vergroot. Sommiges onder ons neem groot persoonlike en finansiële risiko’s om sulke drome te verwesenlik.

Jesus vergelyk die koninkryk van die hemel met ’n handelaar wat ’n skat in ’n saailand ontdek en dit dan netjies toemaak. Hy gaan verkoop al sy goed en koop die saailand sodat hy daardie skat kan kry. Of met ’n ander handelaar wat op soek is na goeie pêrels en alles verkoop wat hy het, om een volmaakte pêrel in die hande te kry.

Het jy al ’n verbandlening op jou huis gewaag om ’n luuksemotor aan te skaf of jou kredietkaart oorlaai vir iets soos ’n nuwe sitkamerstel – iets wat jy net wou besit ten koste van jou daaglikse behoeftes?

’n Mens wat verteer word deur begeertes, sal enigiets doen om daardie begeertes te bevredig. Sulke begeertes kan enige vorm aanneem – onbeantwoorde liefde, ydelikheid, mag of rykdom. Maar as die moet-hê-sindroom ʼn houvas kry, is daar geen keer aan so iemand nie. Dis nie nuut nie, Jesus het hierdie neigings ook in sy tyd waargeneem en dit gebruik om sy punt te staaf. Die koninkryk van die hemel het meer waarde as enigiets anders, daarom sal hulle wat dit soek alles op die spel moet plaas om dit te kry. Hierdie boodskap word aan almal verkondig, maar dis net hulle wat luister en dit hul eie maak, wat eendag die koninkryk sal erf.

Genadige Vader, dankie dat U vir my plek voorberei en dat ek verseker weet dat Jesus die prys betaal het, sodat ek Hom met alles wat ek het, kan dien. Rig my oog op die skat wat U vir my in die hemel bewaar en nie op aardse rykdom nie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke  
Vir meer geestelike artikels besoek  http://www.joydigitalmag.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anti-kredietkaart ·

Ek is in my 53 jaar op aarde al BAIE keer kredietkaarte aangebied deur banke. Ek wys dit vriendelik van die hand met: “Nee, dankie. Met ‘n kredietkaart koop jy goed wat jy nie nodig het nie met geld wat jy nie het nie om mense te beïndruk waarvan jy nie hou nie.”

SNEL ·

Nogal iets raak gelees, Hebreërs 13:5 Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.

Daardie laaste gedeelte het dit mooi gesê, laat mens weer dink hoe gefokus mens op God en wat Hy van ons verwag moet wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.