Gedagte vir die dag: ’n Skuilplek

hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here is ’n skuilplek vir die onderdrukte, ’n toevlug in tye van moeilikheid. Dié wat u Naam bely, vertrou op U, want niemand wat U soek, laat U in die steek nie, Here. (Psalm 9:10-11)

Psalm 9 wentel om die tema van God as die regter, die Een wat regstel wat verkeerd is en reg en regverdig oor die wêreld regeer. In hierdie spesifieke psalm beteken dit God oordeel oor mense op grond van dit waarin hulle hulle vertroue plaas. Enigiemand wat God hulle skuilplek en toevlug maak, sal gered word. Wanneer ons God deur persoonlike ervaring leer ken en opreg na Hom soek, sal ons veilig in sy sorg wees. In teenstelling hiermee sal almal wat lief is vir verkeerde dinge en wat ander mense onderdruk, in hulle eie strikke beland (Ps. 9:16).

Vanuit ons beperkte menslike kennis ontstaan daar ’n versoeking, en dit is om God se oordeel te bevraagteken. Ons wil hê God moet vir almal ’n veilige vesting wees. Ons hou nie daarvan dat nie almal gered sal word nie. Maar die keuse is ons s’n: Gaan kruip ons onder God se vlerke in en vertrou Hom om vir ons te sorg, of dink ons hoogmoedig dat ons vir onsself kan sorg en verwerp sy oordeel?

Ons kan nie vertrou op ’n God wat ons nie ken nie. Dit is hoekom dit so belangrik is om na God te soek, en om sy karakter te leer ken deur die Bybel te lees en te bid. Dan sal ons die diep oortuiging ontwikkel dat alles wat God doen, volmaak is en dat sy pad die regte pad is. God behandel ons nie soos ons verdien nie, maar in sy genade vergewe Hy almal wat by Hom kom skuil. Hy is ons ewige skuilplek en toevlug.

Die Here is goed. In tye van nood is Hy ’n veilige vesting. Hy beskerm elke mens wat op Hom vertrou. – Nahum 1:7

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.