Gedagte vir die dag: Oefening

Vrou_strand_stiltetyd_lees-Bybel_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: 1 Timoteus 4:7-8

Moenie tyd verkwis met redenasies oor goddelose idees en ouvroustories nie. Bestee jou tyd en energie daaraan om jouself te oefen tot geestelike fiksheid. Liggaamlike oefening het wel waarde, maar geestelike oefening is baie belangriker, want dit hou die belofte in van beloning, sowel in hierdie lewe as in die volgende. (1 Timoteus 4:7-8)

Om te oefen, was nog nooit vir my vreeslik belangrik my nie. Ek het egter agtergekom dit moet ’n onvoorwaardelike deel van my lewe word. Stap is nie meer genoeg nie, want ek moet my spiere sterker maak. Wanneer het ek tot hierdie besef gekom? Toe ek ’n ligament skeur as gevolg van verswakte spiere. Dit het my tot nadenke gebring en tot aksie laat oorgaan.

Ek het agtergekom jy het op alle gebiede van die lewe oefening nodig. Om ’n goeie kok te word, is oefening nodig om ’n resep te vervolmaak. Om ’n musiekinstrument te bemeester, moet jy gereeld en hard oefen.

Hoeveel tyd bestee jy aan die geestelike inoefening van jou geloof? Hoe lank lees jy Bybel per dag? Hoeveel tyd bestee jy aan geestelike opbou in jou lewe? Woon jy ’n Bybelstudiegroep, Bybelskool of selgroep by waar jy jou geloof kan oefen? Ons is so gewillig om ure in die gimnasium te oefen, maar ons geestelike lewe kry nie naastenby dieselfde aandag nie.

Die enigste manier hoe jy gaan groei, is deur tyd saam met die Here deur te bring. In Timoteus kry ons die versekering dat geestelike oefening belangrik is en dat dit ’n beloning inhou. Hier die beloning wat ons kan kry, hou soveel belofte in. Wat kan ’n groter beloning wees as die ewige lewe? Hierdie beloning moet ons aanspoor om ywerig geestelik te oefen.

Ek wil jou aanmoedig om hierdie uitdaging te aanvaar om geestelik te oefen en die prys van oorwinning na te jaag. Jy sal nooit spyt wees daaroor nie, want deur die Here te ken en te groei in kennis, sal jy geheimenisse ontdek wat jou asem sal wegslaan.

Here, om U beter te verstaan, moet ek kennis van u Woord hê. Om kennis van u Woord te kry, moet ek meer tyd saam met U deurbring. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.