Gedagte vir die dag: Om vir die Here te werk

Foto: pixabay.com

Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie. Weet dat die Here julle met ’n erfdeel sal beloon. Die Eienaar vir wie julle werk, is Christus! (Kolossense 3:23-24)

Voel jy partykeer asof niemand jou waardeer nie? Jy werk hard agter die skerms, amper anoniem, en voel daarom afgeskeep, asof niemand jou raaksien nie. Jy is nie die enigste een wat so voel nie. Werkgewers maak foute. Base raak baasspelerig. Toesighouers beloon onbekwaamheid. Onderwysers misluk. Bestuurders maak hulle skuldig aan wanbestuur. So gaan dit maar in ’n onvolmaakte wêreld met feilbare, sondige mense daarin. Tog maak dit seer as jý daaronder moet ly.

Wat die situasie by jou werk ook al is, God weet presies wat aangaan. Hy sien mense se gesindheid, Hy sien die hoeveelheid en kwaliteit werk wat gedoen word. Hy weet of iemand sy beste gee of lyf wegsteek. Daarom sê God vir ons deur die skrywer van die Kolossensebrief dat ons altyd moet werk soos vir die Here en nie vir mense nie. Vir seker beteken dit dat ons hard sal werk, werklik ons salarisse sal verdien en altyd eerlik sal wees.

As ons verstaan dat ons werk altyd diens aan God is, word ons bevry van die versoeking om aardse beloning en erkenning te soek. Dan kan geen menslike lofbetuigings naby daardie “Mooi so!” kom van Christus wat wag vir almal wat Hom vertrou en in sy diens staan nie.

Ten spyte van die gesindheid van jou kollegas, klasmaats, hoofde of vriende moet jy op die Here fokus en jou werk “soos vir Hom” doen. Die beloning wat Hy gee, is baie meer en beter as wat jy jou ooit kan voorstel.

Watter verskil sal dit vandag aan jou maak om te weet dat jy vir die Here werk, en nie sommer vir enige werkgewer nie?

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

susan ·

Dankie dat ek vir U kan werk Here
Seën asseblief die dag. Amen.

Von ·

Dankie Here Jesus dat U wat alles van ons weet ons so baie liefhet

My mening ·

Dit plaas alles in perspektief. As ons oë op Hom is, kan ons op die see loop en nie sink nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.