Gedagte vir die dag: Omkoopgeskenke

 Stiltetyd-3.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Liewer min hê en reg lewe as baie inkomste hê deur onreg. (Spreuke 16:8)

Die duiwel se ander naam is nie verniet Mammon nie. Die profete kan nie genoeg waarsku teen korrupsie, omkopery en skelm geldmakery nie. Jesus ontmasker die Fariseërs in Markus 12:40.

Ons lees dat die eerste Christene hul grond en goed verkoop en onder me­kaar verdeel het. ‘Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte’ (Hand 4:34–35). Die Leviet Josef van Siprus is in dié verband spesiaal vermeld.

Ongelukkig was daar twee ander mense wat ook spesiale aandag gekry het en uit wie se bedrog ons ’n les kan leer. Ananias en sy vrou Saffira het hul eiendom verkoop, die geld vir die apostels gegee en hulle onder die indruk probeer bring dat hulle die hele bedrag skenk. Hulle wou maak of hulle baie vrygewig is, maar het van die geld teruggehou. Petrus het Ananias onder leiding van die Heilige Gees skerp aangespreek en hom daarop gewys dat hy nie vir mense nie, maar vir die Gees gejok het. Hy kon regtig met die geld van sy eiendom gemaak het wat hy wou, maar om voor te gee dat hy alles vir die gemeente gee, was verkeerd. So ernstig was hierdie oortreding in die oë van die Here, dat Ananias voor die hele vergadering inmekaargesak en gesterf het. Dieselfde lot het sy vrou getref. Ook sy het oor die verkoopprys gelieg en op die plek gesterf. Hierdie twee welgestelde mense wou as vrygewig bekend staan, maar hul bedrog is oopgevlek en hul slegte voorbeeld staan in die Bybel op­geskryf as ’n vingerwysing vir enigeen wat geld onder valse voorwendsels skenk.

‘Vir wie dit gee,’ sê Salomo,‘het omkoopgeskenke towerkrag; vir hom moet dit sukses verseker waar hy ook gaan’ (Spr 17:8).

Nee, nie by die Here nie.

Hemelvader, bewaar ons van die versoeking om omkoopgeskenke te gee en te ontvang.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.