Onwrikbaar: ‘n Huis op rots gebou

Foto: Pixabay

Deur Mauritz Zietsman van Every Nation Church

Het jy al ooit deur “storms” in jou lewe gegaan? Het jy al ooit gevoel of die mat onder jou voete uitgeruk word? Daar is nie ’n mens op hierdie planeet wat nog nie deur moeilike tye gegaan het nie. Jy gaan geestelike en emosionele storms in jou lewe beleef, daar is geen manier om dit vry te spring nie, maar die vraag is, hoe reageer jy wanneer dit moeilik gaan met jou? Kla jy? Blameer jy ander mense? Raak jy hopeloos? Dit is in hierdie tye wat dit duidelik raak waarop jou lewe gebou is en wat die fondament van jou lewe is.

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.” (Matt. 7:24-25)

Die Bybel gee vir ons ’n eenvoudige, maar onverwagte oplossing oor hoe om staande te bly in die storms van die lewe: gehoorsaamheid. Hierdie woord is partykeer ’n baie ongewilde woord. Maar die Bybel leer ons dat die enigste fondament wat sal kan staande bly, gebou is op gehoorsaamheid. Om gehoorsaam te wees, is om die Woord te hoor en dit toe te pas in jou lewe. Die tipe fondament wat jy in jou lewe bou, het meer te doen met hoe jy toepas wat jy in die Bybel lees as hoeveel verse jy kan opsê.

Nou wil ek ’n geheim met jou deel. Ons almal sukkel hiermee, pastore en dominees sondig ook. Maar daar was een mens wat geleef het wat 100% gehoorsaam was aan God. Een mens wat die perfekte fondament gelê het. Sy fondament was só sterk dat Hy nog steeds kon doen wat God van hom gevra het, self al het dit Hom alles gekos. Hy was verneder, verwerp, verlate en uiteindelik vermoor. En nie vir ’n oomblik was Hy ongehoorsaam teenoor God nie.

Sy naam is Jesus. Hy is die enigste fondament wat staande sal bly.

“… want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.” (1 Kor. 3:11). Daar het ’n “transaksie” gebeur by die kruis. Jesus het sy perfekte, sondelose, gehoorsame lewe verruil vir ons wankelrige, sondige, ongehoorsame lewens. Daarom kan ons nou in Jesus deel hê aan hierdie vaste fondament. Daarom kan ons nou deur storms gaan sonder dat ons lewens inmekaarval. In Jesus het ons hoop. In Jesus is ons onwrikbaar.

Jesus, dankie vir wat U aan die kruis gedoen het vir my. Ek kom plaas my lewe in U hande. Here, ek probeer U gehoorsaam, maar ek kry dit nie altyd reg nie. Ek is jammer vir my ongehoorsaamheid en ek wil wegdraai van enige sonde af. Jesus, ek is so ongelooflik dankbaar dat U my sondige lewe verruil vir U perfekte lewe van gehoorsaamheid. Help my asseblief om U te gehoorsaam, self wanneer dit my iets kos. Here, dankie dat in U ’n vaste fondament het en dat ek kan staande bly deur die storms van die lewe. Amen.

 

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante en ander skoliere wat eksamen skryf, aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android- en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Erica ·

Amen, ons almal in RSA gaan gebukkend onder soveel aanslae…. Ons Ekonomie, Veiligheid, Finansies, Kinders, Kleinkinders en en en
Ai Ai Ek bly op my kniee ???
RSA kan gered word as ons, ons na Jesus draai…… Terug keer op die “”Straight & Narrow Way”” dan sal God ons bo verwagting SEËN.
Ons in Wes Kaap moet leer om Water te Spaar. Jesus het verligting gebring toe Almal begin Bid het teen “” Day Zero”” ………. Bid saam vir Ons Land, Kinders, Kollegas, Ouers en Ja ook die wat Ins al soveel te na gekom het…….. Dis maklik om iemand wat jy Lief het te Vergewe…… Makliker as net ‘n Killega, Buurman, Werkgewer ens.
Bid vir Jul Vyande ook!!
Dit is wat God van Ons Verlang ??

Lena Jonk ·

Dit is soms baie moeilik maar daar is ongetwyfeld een punt, ons moet vir ons vyande bid, Jesus se dit ook in Sy woord en ook baie belangrik dat ouers saam met kinders moet bid dat hulle weet hoe om Hom te volg om die regte pad te loop dan sal dinge anders wees in hierdie wereld. Bid is al, niks is beter vir die mens as dit nie. Ons moet ook vir die bid wie Jesus as n songod of enige iets anders noem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.