Organisasie neem Bybels na uithoeke van die aarde

(Argieffoto: Pixabay)

Meer as 260 miljoen Christene wêreldwyd ervaar ernstige vervolging weens hul geloof in Jesus. Een van die grootste behoeftes vir hierdie gelowiges is Bybels. Dit is egter ’n groot uitdaging om Bybels in sekere dele van die wêreld te versprei.

 “Verbeel jou dat jy ’n nuwe gelowige in die Persiessprekende wêreld is, wat Jesus deur ’n televisieprogram of ’n droom ontdek het. Jy weet dat jou nuwe geloof nie in jou land of gemeenskap aanvaar word nie, maar jy is gretig om meer te leer.

“Bybels in die Persiese taal is baie skaars, wat beteken dat dit uiters moeilik is om ’n kopie in die hande te kry. Soms wag gelowiges vir jare om ’n Bybel te kry,” het Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, gesê.

Met die hulp van Geopende Deure neem Bybel-afleweringswerkers groot hoeveelhede Bybels en Christelike literatuur na gelowiges wat desperaat daarvoor wag. Hierdie werk is moeilik en gevaarlik, maar beslis die moeite werd.

Sirië, wat die afgelope nege jaar deur ’n burgeroorlog geteister word, is ʼn voorbeeld van ’n land waar Geopende Deure tans ’n reuseverskil maak met die verspreiding van Bybels en praktiese ondersteuning.

Gouws het gesê daar is ’n groot behoefte aan Christelike literatuur in hierdie oorloggeteisterde land. Geopende Deure het in 2013 voedsel en finansiële hulp aan die mense van Sirië verskaf, asook sedertdien meer as 50 000 Bybels en Christelike boeke in dié land versprei. ’n Groot besending van 15 000 Aksiebybels – geïllustreerde Jeugbybels – het ook onlangs in Sirië aangekom en is aan Christene oral in die land versprei.

“Ghalib*, een van die grootste Bybelverspreiders in Sirië, sê die mense waardeer die ondersteuning ontsettend en dat hulle versot is op die Aksiebybel. Volgens hom is die mense baie dankbaar vir die fisieke sowel as geestelike ondersteuning,” het Gouws gesê

Hy het bygevoeg dat die stories wat Geopende Deure kan deel oor mense wat Bybels ontvang het en ’n getuienis het om met ander te deel, net te danke is aan die hulp en donasies van ondersteuners.

“Elkeen van hulle het nou ’n storie om te vertel, omdat mense soos ek en jy in liefde uitgereik het na hulle. Jou vennootskap met Geopende Deure kan vandag help om talle gelowiges met hul eie Bybels te seën. Vir so min as R55 per maand kan jy Bybels aan vervolgde gelowiges wêreldwyd voorsien om hulle geloof te help versterk te midde van die storms van vervolging.”

Indien jy by Geopende Deure wil betrokke raak en hulle wil ondersteun met die verspreiding van Bybels, kan jy ʼn SMS met “BYBEL en jou NAAM” na 43 699 stuur. Standaard SMS-tariewe geld. Lesers is ook welkom om www.opedoors.org.za te besoek vir meer besonderhede oor die organisasie se bediening.

*Skuilname is gebruik.

  • Jan Gouws van Geopende Deure het met Maroela Media gesels oor die organisasie se bediening met die verspreiding van Bybels. Hy het verspreiders se getuienis gedeel en verduidelik hoe mense by die bediening betrokke kan raak. Luister na die volledige gesprek in die podsending bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Mag elke gehoorsame wat die bevrydende Evangelie uitdra, veelvuldig geseën word.
Hierdie, is groot werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.