Gedagte vir die dag: Sien dit raak!

Vroue_gelukkig_berg_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. (1 Tessalonisense 5:18)

Die prentjie het my oog gevang omdat daar ’n stuk koek op was. Toe ek dit van nader bekyk, het dit binne oomblikke my hart teruggeruk na die soort lewe wat ek eintlik wil leef …

Op die prentjie was daar ’n mannetjie met ’n groot stuk koek op sy bord. Hy het breed geglimlag: Daar was een hele sny net vir hom!

Onder dié mooi prentjie was daar nóg een, dié van ’n kêrel met ’n erg ontevrede uitdrukking op sy gesig. Voor hom was daar ’n liplekker koek, maar daar was reeds ’n stuk daaruit gesny. Dit was die rede vir sy ontevredenheid: die stuk wat weg was.

Onderaan die prentjies het dié woorde gestaan: “Sommige mense fokus op wat hulle het, en ander op wat hulle nié het nie.”

Ek het begin dink aan die kere toe ek na my lewe gekyk en met ontevredenheid in my hart alles raakgesien het wat skort. Ek het na my besittings gekyk en gedink aan alles wat my vriende en bure en kollegas het. En hoe alles wat ek het maar bra gemiddeld lyk, selfs gebrekkig, armsalig.

Ek het na my lyf gekyk en die plekke raakgesien waaroor ek skaam is. Na my verbeeldinglose klerekas wat beslis ’n dringende oordoensessie kort. Na my gawes en talente, en gewonder waarom ek nie méér gekry het nie.

My ervarings is maar saai, my lewe so doodgewoon. My Facebookvriende doen sulke opwindende dinge …

Ek kan wel ook aan duisende dinge dink wat oorvloedig in my lewe is. Ek is ’n geseënde mens!

Waarom, vra ek my soms af, sien ek dan net die dinge raak wat kamma kortkom?

Is dit dan nie God se wil dat ek vir alles in my lewe dankbaar moet wees nie (vgl. 1 Tess 5:18)?

Sal my lewe nie soveel ryker en mooier én makliker wees as ek my instel op die groot stuk koek wat ek wel voor my het nie?

Ek kan vandag sê ek het ’n dak oor my kop, ’n bed om in te slaap, kos op die tafel. Ek het vriende en familie wat vir my lief is. Dis veel meer as wat baie mense kan sê. In sulke tye besluit ek opnuut, in gehoorsaamheid aan God, om nie meer die dinge raak te sien wat ek nie het nie. Om gefokus te bly op die baie dinge in my lewe waarvoor ek baie dankbaar moet wees.

Here, ek is jammer dat ek so dikwels nie raaksien wat U my gee nie. Dankie vir die rykdom wat ek uit u hand ontvang.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.