Gedagte vir die dag: Skool is amper uit

Sonsondergang_aanbid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie. (Jeremia 33:3)    

As jy wil hê God moet jou gebruik, moet jy deur die skool van harde lesse gaan. Binnekort sal ons Hemelse Vader die skool sluit, want die einde van die skooltermyn kom elke dag nader. Ons het nie die opsie om van ’n moeilike les af weg te hardloop of die roede van dissipline te ontduik nie. Ons gaan binnekort  hemel  toe  en  dit  sal  nog  meer belonend  wees omdat  ons  blymoedig volgehou het tot die einde toe. Dan sal die dag kom dat ons gradueer en die heerlikheid  ontvang.

Dit is tog goeie nuus, nie waar nie? Ons sal nie vir altyd in die skool wees nie. Ons termyn is amper verby en dan sal ons hemel toe gaan om saam met Jesus te  wees.  Intussen moet ons voortgaan  om  deur  geduld,  volharding en lyding vir die Here, rampe in sukses te verander en tragedie in oorwinning. Ek wil graag die pragtige illustrasie van die vuurgloed van beproewing met jou deel. Die beste porselein ter wêreld word ten minste drie keer in vuur gebak.  Dresden porselein word altyd drie keer gebak. Hoekom moet dit in sulke intense hitte gebak word? Sal een of twee keer nie genoeg wees nie? Nee, dis nodig om dit drie keer te bak sodat die kleure helderder en mooier kan word, en dit meer duursaam sal wees. Ons word ook so gevorm. Die menslike beproewings word verskeie kere in ons ingebrand, en dan, deur God se genade, word pragtige, helder kleure in ons gevorm en kan ons Hom vir ewig verheerlik.

Moenie weghardloop van, of bang wees vir die uitdagings en die vuurgloed van beproewing nie. Bring dit na die Here en lê dit neer aan die voet van die kruis op Golgota. Moenie moed verloor nie. Die wedloop is nog nie verby nie. Hardloop die wedloop met volharding. Die dag kom wanneer ons stemme sal opgaan saam met die stemme van vreugde en blydskap wat die bruid van Christus saamstel: “Loof die Here  van die leërskare, want die Here is goed, want sy goedertierenheid is in ewigheid!” (vers 11).

My Vader, ek onderwerp my aan u werk in my lewe. Ek weet dat wat ook al oor my pad kom, my verder sal voorberei vir die dag wanneer die skool uitkom en ek kan huis toe gaan om vir altyd saam met U te wees. Hou my sterk, hou my getrou.  Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Derek ·

Absoluut so, dankie vir ons loutering en suiwering op aarde Vader, ons is opgewonde!

Yvonne ·

Dankie Here dat ons nie altyd hoef te verstaan nie maar altyd moet vertrou….U weet die beste

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.