Gedagte vir die dag: Só ’n Vader …

kinders_hardloop_veld_cannahealth_com.jpg

Foto: cannahealth.com

“Julle vaders – as julle kinders vir ’n vis vra, gee julle dan vir hulle ’n slang? Of as hulle ’n eier vra, gee julle dan vir hulle ’n skerpioen? Natuurlik nie! As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.” (Lukas 11:11-13)

Dit was by ’n musiekblyspel wat ’n kerk op ons buurdorp op die planke gebring het dat ek ’n stukkie van God se Vaderhart beleef het. Daar het iets gebeur wat my ’n bietjie beter laat verstaan het hoe God oor ons voel.

Die akteurs en sangers was lidmate van die gemeente wat hul talente daardie aand uitgeleef het. Daar was ook ’n klompie kinders op die verhoog – as ek moet skat, so tussen ses en sestien jaar oud. ’n Sestal wat elkeen ’n prominente rol gehad het.

Met hul eerste verskyning het die kollig op die hoofakteurs geskyn. Maar teen die einde van daardie toneel het twee tienerseuns eensklaps vorentoe getree om saam te sing en te dans. In daardie breukdeel van ’n sekonde voordat die musiek begin het om dié spesifieke toneel in te lui, het ’n man uit die gehoor gebulder: “Jaaaa!”

Daar was min twyfel oor wie se pa daardie kreet laat hoor het. Een van die seuns het sy bolyf net so ’n aks regopper getrek. Hy het geglimlag, sy ken effens gelig en sy danspassies met oorgawe begin doen. Daar was ook ’n tweede toneel waarin die seun opgetree het. Almal moes weer die kreet aanhoor. Die luide, trotse, vaderlike “jaaaa!”.

Almal moes hoor dis sý seun daardie. En hulle het.

Die Bybelskrywers gebruik verskillende woorde om God ons Vader en wie Hy vir ons is nader te beskryf. “Barmhartig” is een daarvan. Hieroor kan ons nét bly wees. Sy barmhartigheid blyk onder meer uit Jesus se beskrywing van Hom as die Een wat veel meer goedhartig is as ’n aardse vader. Een wat nie vir sy kinders ’n slang sal gee as hulle vir ’n vis vra nie (vgl. Luk 11:11-13).

Dit blyk dat God ons Vader ook sy trots en goedkeuring oor sy kinders uitspreek. Nadat Jesus gedoop is en die Heilige Gees oor Hom gekom het, het die stem uit die hemel gesê: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My” (Matt 3:17).

God ons Vader is ook liefdevol op ’n manier wat ons moeilik begryp. Dit was immers vanweë sy liefde dat Hy sy enigste Seun gestuur het om vir ons sondes te sterf sodat ons vir ewig saam met Hom kan leef. Dis God ons Vader se liefde vir ons wat tot gevolg het dat ons as geredde mense kan lewe en getroos kan sterwe. Dis dieselfde liefde waarmee Hy die Heilige Gees na ons gestuur het om ons te help onthou wie Hy vir ons is.

Hoor jy? Hoor jy daar uitgerekte, vreugdevolle, triomfantelike en trotse “jaaaa!”? Dis God ons Vader se stem. Daardie “ja” is vir jou.

Here ons God, dankie dat U ’n barmhartige, liefdevolle Vader is. Help my om iets van die diepte van u liefde vir my te besef.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.