
Foto: pixabay.com
Lees Psalm 38
Ek vertrou op U, Here, U sal antwoord … (Psalm 38:16)
Lees hierdie psalm van hoek tot kant deur: Jy sal nie ’n antwoord vind nie. Geen verligting nie. Soos dit in die eerste vers met ’n smeekroep begin (“Moet my tog nie …”) eindig dit meer as twintig verse later: “Maak tog gou om my te help …”
Die redes vir die benoudheid wissel: In die eerste verse is dit die Here se hand wat “swaar op my” lê (v. 3); in die daaropvolgende gedeelte wys die digter die vinger na homself, “my eie dwaasheid”(v. 6). Nóg later wys hy sy vyande uit “wat my sonder rede haat” (v. 20).
Maar deurentyd, van begin tot einde, smeek hy: Help my, Here!
Maak tog gou! “U weet waarna ek smag …” (v. 10).
Wat ’n roerende pleidooi. En ons kan ons, eeue later, steeds daar- mee vereenselwig. Met die desperaatheid, met die vyande – juis ook onsself, wat merendeels ons eie grootste vyand is. Ja, en selfs met die belewenis van die Here se swaar hand, sy toorn oor ons.
Maar veral, verál, met die noodroep waarop die antwoord steeds uitbly. Want wie van ons ken nie daardie stilte ná gebed nie? Wie het nog nie gewonder of ons gebede nie maar iewers tussen bed en plafon vassteek nie? Is ek ooit gehoor? Is daar hoegenaamd Iemand wat my aanhoor?
Dié digter wonder nie daaroor nie. Sy gebed het maar een adres: “Here, my Redder!” (v. 23). Nee, hy weet goed God hoor; dit is net die gewag wat hom onderkry.
By hom is dit geen kwessie nie: Om sonder ’n antwoord te wees, beteken nie dat jy sonder God is nie. Nooit. Moet jou net nie skaam om aan te hou vra nie. Dit sou ook Jesus later sê (vgl. Luk 11:5-13).
Ek vra sonder ophou, Here, ek soebat: Hoor my! Help my!
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
4 Kommentare
Weereens baie dankie aan MM vir die daaglikse gedagtes. ek glo al my gebede word gehoor. ons God is groot die antwoorde op my gebede sal op die Here se tyd geantwoord word, dis nie my tyd nie dit is die Here Christus se tyd
Amen!
Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge Here. Amen !
Dankie Here dat U altyd daar is vir ons dat U nooit opgee nie.
Lief vir jou Here…….!!!!
Amen!!!!
Ek wonder soms of die Here moeg word vir ons gekerm oor een ding bv. ek bid gedurig vir reen in die Noordkaap en dat die regering insig sal kry om die regte besluite te neem en dit met die Here se genade en hulp sal uitvoer, maar na die lees van bostaande besef ek weereens die Here weet wanneer en ons kan nie vir Hom voorskryf dis verregaande.