Gedagte vir die dag: Sy heerlikheid aan ons geopenbaar

Vrou_koffie_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. (Romeine 8:18)

As jou lewe net oor die tydelike gaan, sal jy nie verstaan waarvan Paulus in Romeine 8 praat nie. As ons lewens net oor die tydelike gegaan het, sou ons nie redding nodig gehad het nie. Dit sou nie nodig gewees het dat Jesus aarde toe moes kom om vir ons sondes te sterf nie. Dit is waaroor geloof gaan: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11:1). Ja, ons is sekerlik ook hier op aarde om die seëninge wat God ons gee, te geniet. Ons moet so leef dat ons God se koninkryk hier op aarde vestig, sy wil doen en Hom verheerlik. Tog moet ons altyd in gedagte hou dat ons maar net pelgrims op pad na ’n ander bestemming is.

Hoekom dink jy het Jesus ons gewaarsku om nie skatte hier op aarde te versamel nie? “Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Matteus 6:21). Dit beteken nie dat God ons nie voorspoed hier op aarde wil toewens nie. Wat belangrik is, is wat ons daarmee doen – gebruik ons dit tot eer van sy koninkryk? Wanneer ons só begin leef, sal Matteus 6:33 vir ons waar word: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Dit neem droefheid en smart om die siel te verruim en te verdiep. Ek wens niemand smart toe nie, maar dit dien ’n goeie doel.

Gedurende die mees smartvolle tye van my lewe was ek die naaste aan Jesus. Ek onthou dit met deernis. Dit was die tye toe Hy my vasgehou het. Soms wou ek nie soggens uit die bed klim nie, want ek kon nie nog ’n dag trotseer nie. Tog het Jesus my elke dag versterk om op te staan en ’n bietjie verder te loop. Hy kan dit vir jou ook doen. Elke nasie en elke persoon moet die lesse in God se skool van teenspoed verduur. Dit is hoe ons groei tot volwassenheid.

My Vader, ek besef my lewe gaan nie oor die tydelike nie. Ek dank U dat U my fokus verskuif het. Ek weet dat al die lyding wat ek nou verduur, niks is in vergelyking met die heerlikheid wat ons eendag saam met U in die hemel sal geniet nie. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat ek soos Paulus ook kan uitsien na die ewige toekoms saam met U…..dat die seerkry wereld sal verbygaan…..in Jesus Naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.