Gedagte vir die dag: Teenspoed kweek geduld

Foto: pixabay.com

Baie liewer sal ek in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan  woon.  Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk. (2 Korintiërs 12:9b-10)

So ’n tyd gelede het ’n jong Australiese man wat nou in Amerika woon, vir ons by Shalom kom kuier. Hy is  gebore sonder arms of  bene en hy reis die wêreld deur as evangelis. Terwyl hy by ons gekuier het, het hy meer in my lewe gespreek as wat ek ooit in syne kon spreek.

Voor sy vertrek wou hierdie jong man ’n foto van ons twee saam hê. Om die foto te neem, moes hulle hom op ’n tafel sit sodat ons op dieselfde hoogte kon wees. Ek is nog selde in my lewe soveel aangeraak deur die liefde van ’n ander mens as van daardie jong man. Hy  kon nie my hand skud nie; hy het  net gesê: “Angus, gee my ’n druk.” Natuurlik kon hy my nie ’n druk gee nie; hy kon slegs sy kop gebruik toe ek my kop op sy skouer gerus het. Net voor hy weg is, het hy vir my ’n DVD gegee. Hy het gevra of hy dit vir my kan teken. Een van sy vriende het vir hom ’n pen gegee, hy het dit tussen sy tande vasgehou en ’n boodskap  op  die DVD geskryf.  Sy  handskrif  was beter as myne, en ek het twee hande en twee voete. Ek het iets in daardie jong man gesien wat ek selde in jong mans van sy ouderdom sien.

Jong mans is dikwels ongeduldig en nie juis sensitief of tegemoetkomend nie. Ek was ook jonk en ek onthou hoe ek was. Jy sien, as jy nie die ongenaakbaarheid van die lewe deur pyn en lyding ervaar het nie, kan jy maklik ongeduldig raak met mense.  Die jong  man wat by my gekuier het, moes van  geboorte af groot beproewings verduur. Tog het hy nie net opgegee en homself bejammer nie. Hy het besluit om God toe te laat om sy teenspoed te gebruik om na mense uit te reik. Het jy jouself oorgegee aan selfbejammering, of laat jy God toe om jou teenspoed tot sy verheerliking te gebruik?

My Vader, ek besef dat ek myself so dikwels bejammer. Ek bid dat U my sal vergewe. Help my om my oë op U te rig en slegs op U. In U sal ek alles vind wat ek nodig het om nie net my laste te dra nie, maar ook om my daarin te verbly.  Ek bid dat U my die gawe van geloof sal gee. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here vir die boodskap deur Angus en Nic dit roer my hart…vergewe my asb vir soveel ongeregtighede…..Amen

Derek ·

Dit is juis hoekom baie van ons foute maak op ons lewenspad of pelgrims reis op aarde, impulsiwiteit en ongeduld. Eerstens gaan dit oor die model van die tuin van Eden waar Adam en Eva gesteier het omdat hulle hul bo God verhef het en na die satan of verleier geluister het in plaas van God. Die satan deur Christus beskryf in Matheus 16. Tweedens omdat Christus die wet en profesie gee in Matheus 7 en baie ongehoorsaam is en dit nie eerbiedig nie. Derdens omdat baie die liefde versaak het soos God se opdrag in 1Korintiers 13! Ongeduld, impulsiwiteit en ongehoorsaamheid ons grootste val en opstaan in hierdie lewe, maar ons is hier om te leer as voorbereiding vir ons volgende lewe vir die wat dit glo! Johannes 1 vers 17, die wet kom deur Moses, maar die waarheid en genade deur Jesus Christus vir hulle wie in Hom glo. Hy is die opstanding en die ewige lewe!

Derek ·

Suid Afrika se val het gekom deur artikel 15.1 van die handves van menseregte, die vryheid van godsdiens. Baie leef nog onder die ou verbond van Abraham, Isak en Jakob. Die Skrif leer ons in Johannes 16 dat wie in Christus glo en Sy gebooie gehoorsaam, die nuwe gebod in 1Korintiers 13, daar geen veroordeling is nie. Die wat nog onder die wet leef, leef onder die vloek, want die wet is die tugmeester na Christus toe. Sonder liefde is geloof niks. Laat my dink aan n jong meisie wie ek ontmoet het in Bethlehem en wie se ouers geskei was en ek die voorreg gehad het om aan haar die waarheid, Jesus Christus te verkondig. Net om later te verneem sy het haarself opgehang omdat sy veroordeel was deur haar tannie, wie in die kerk is, omdat sy n tattoe laat aanbring het, sy was maar net 14 jaar oud. Dit is die skade wat die tong, die moordenaar aanrig deur godsdiens of te wel die ou verbond. Christus is die nuwe lewe en die nuwe wyn soos Daniel 12 en Matheus ons leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.