ToekomsVenster: Beginsels vir ’n gelukkige lewe; bietjie, bietjie maak meer

Foto: Redcharlie/Unsplash.com

God belowe Abram, die vader van die gelowiges, dat Hy hom ʼn man van groot betekenis sal maak. (Gen.15) Sy invloed en getuienis sal oor geslagte heen weerklink tot aansporing van ander gelowiges.

Ons ken Abram, alhoewel nie volmaak nie, as ʼn man van geloof. Die episode toe hy sy seun Izak, die seun van belofte moes offer, gryp ʼn mens in die hart. Ek kan my wat in Abram se gedagtes moes omgegaan het nie eers voorstel nie.

God voorsien op wonderlike wyse ʼn ram wat as offer aangebied kan word terwyl Izak se lewe gespaar word.

Genesis 22:12 – Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

Abram, man van geloof, man van groot betekenis.

Ek is daarvan oortuig dat die meeste van ons mense van betekenis wil wees, groot betekenis. Ons het nodig om te weet dat ons “hier wees” tog aan die einde van die dag iets beteken het. Die lewe kan nie ongesiens verbygaan en daar is niks om te wys nie. Op die een of ander manier moet komende geslagte die voordeel geniet van wat ek hier in gehoorsaamheid gedoen het. Daar moet sin en betekenis wees. Eendag se “mooi so goeie en getroue dienskneg en diensmaagd’ moet konteks hê.

Die gelykenis van die man wat op reis gegaan het kom by my op. Elkeen het ʼn hoeveelheid gawes (talente) ontvangs. Toe die eienaar terugkom het hy rekenskap gevra. Ons ken die verhaal.

Groot betekenis word uit klein dade van gehoorsaamheid opgemaak. Elke dag getrou wees in dit wat die Here jou opdra om te doen. Nie noodwendig opspraakwekkende goed nie alhoewel daar mense is wat daarmee vertrou word.

Vir die meeste van ons beteken dit egter ʼn rustige geloofwaardige uitlewe van ons oortuiging dat Jesus die Here is, dat Hy die lewe die moeite werd maak en dat ons medewerkers met Hom en sy Gees is.

Jy wil ook iemand van betekenis, groot betekenis wees? Wees dan getrou in dit wat Hy vandag van jou vra.

Onthou, dis sy werk. Ons kan en hoef nie verantwoordelikheid vir die wêreld te dra nie. Hy hou dit reeds in sy hand.

Wees bedag op die geleenthede wat na jou kant toe kom om te getuig van sy liefde. Wat jou getuienis vermag is nie jou saak nie. Dis die Gees wat die vrug teweeg bring. God seën jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.