ToekomsVenster: Beginsels vir ’n gelukkige lewe; lig vir die pad

lig-venster-op-hand

Foto: Dyu – Ha/Unsplash.com

U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. – Psalms 119:105

Die definisie van ‘n grondwet volgens Wikipedia is die volgende: “ʼn Grondwet of konstitusie is ‘n wet wat onder alle omstandighede geldend is of waarop ander wette gegrond is. ʼn Grondwet is ’n versameling van fundamentele beginsels of vasgestelde reëls wat die regsbasis van ʼn staat, organisasie of enige ander soort entiteit vorm en bepaal hoe daardie entiteit bestuur word”.

In Suid-Afrika beroep mense en instansies hulle gereeld op die Grondwet. Dit beliggaam die finale gesag vir besluitneming, die hantering van dispute en beplanning vir die pad vorentoe.

Christene het ook ʼn Grondwet. Ons Grondwet bepaal hoe ons moet lewe en optree. Dit vorm die finale gesag vir alle besluitneming. Ek verwys uiteraard na die Bybel.

In die geval van staatsregtelike sake moet die Suid-Afrikaanse Grondwet somtyds vir bepaalde sake interpreteer word. Die strekking en implikasie van artikels daarin vervat is nie altyd met die eerste oogopslag duidelik nie. Kontekste verskil en geen Grondwet beskryf uitkomste vir alle moontlike scenario’s nie. Die Grondwet moet vir sekere omstandigheid en uitdaginge interpreteer word. Somtyds voel mense dat die Grondwet nie na behore interpreteer is nie en beroep hulle dan op howe met meer gesag om leiding te gee.

Die Bybel, Christene se (geloofs-) Grondwet het ʼn bepaalde kultuurhistoriese konteks waarbinne dit ontstaan het. Die konteks lê meer as 2 000 jaar terug. Daar is tientalle voorbeelde van scenario’s wat nie in daardie tyd bestaan het nie. Dink maar aan die tegnologiese ontwikkeling wat sedertdien plaasgevind het. Ons staan aan die vooraand van een van die mees omstrede uitdagings in mense heugenis – die vierde industriële revolusie.

Die internet het die volgende te sê oor hierdie op hande werklikheid: “Hierdie moontlikhede sal vermenigvuldig word deur ontluikende tegnologiese deurbrake in velde soos robotika, die internet van dinge, outonome voertuie, 3-D-drukwerk, nanotegnologie, biotegnologie, materiaalwetenskap, energieopberging en kwantumrekenarisering.” Vir my klink dit soos Grieks. Vir die Bybelse ontstaanskonteks totaal vreemd.

Tog is daar ononderhandelbare beginsels in die Bybel wat altyd geld. Die vernaamste is die liefde as vertrekpunt. Liefde vir God en liefde vir die medemens. Dit is onder alle omstandighede van deurslaggewende belang. Daar is geen ander interpretasie vir die liefde as Romeine 13:10 nie: “Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet”.

Hoe, waar en onder watter omstandighede vorm God se hemelse Grondwet, die Bybel, die vertrekpunt en finale gesag in jou lewe? Is jy konsekwent daarin en daarmee, of laat jy jouself deur persoonlike oortuigings, politieke beweegredes of lewensfilosofie voorsê?

Ons is Christene. Ons het ʼn Grondwet. Dit moet weliswaar in sekere kontekste interpreteer word. Daarmee sal ons altyd besig bly want dit is die essensie van die protestantisme. Ons bly soek sodat ons nader en nader aan God se bedoeling kom.

Die liefde egter is nie moeilik om te verstaan nie. Ons kan vandag dit weer as ons vertrekpunt neem.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.