ToekomsVenster: Beginsels vir ’n gelukkige lewe – wit, swart en grys

grys-berg-in-switzerland

Foto: Michael Weibel/Unsplash.com

Die tydvak waarin ons leef word die sogenaamde post modernisme genoem. Dit volg op die modernisme toe rasionaliteit hoog aangeskrewe was. Dinge was duidelik reg en verkeerd, swart en wit. Mense het gevra wat sê die kerk oor belangrike sake en dit klakkeloos nagevolg. Kennis is mag is gereken en die rede faal ʼn mens nie. Daar was geen ruimte vir ander kleurskakerings nie.

In die tydvak waarin ons nou leef praat ons ietwat meer gereserveerd oor God en wat ons dink ons van Hom weet. Ons erken dat Hy baie groter is as ons paradigmas en dat ons maar ʼn beperkte visie op God het. In elk geval, waar sou ons as mense die arrogansie ontwikkel het om te dink dat ons Hom kan verklaar en bykans dissekteer soos in ʼn laboratorium. Gelukkig het ons ʼn bietjie beskeidenheid geleer.

Daar is inderwaarheid ander skakerings as wit en swart. Mense se individuele ervarings en getuienisse word deesdae verreken en ruimte word gemaak vir ander gedagtes. Toegegee, die strategiese waarhede van die Woord kan nooit prysgegee word sonder om die wesentlike van ons geloofsoortuiging te beïnvloed nie.

Jesus die Here, sy kruisiging, opstanding en wederkoms, versoening en vryspraak, sy wonders, dade en woorde bly onder alle omstandighede gesaghebbend. Die maagdelike geboorte, lewe na die dood en nuwe lewe tel ook daaronder.

Dan is daar sake wat oop is vir interpretasie. Oor sommige van daardie sake het die kerk ongekende ure en ure spandeer in debatte en vergaderings. Of dit ons nader gebring het aan God is oop vir bespreking. Ek is nie so seker nie.

Die vraag is hoe dit die omstandighede van miljoene mense wat swaarkry, nie net plaaslik nie maar reg oor die wêreld enigsins ten goede kom.
Ek wonder stellig of die Here ons dalk nie eendag sal teregwys oor kosbare tyd wat met nie so belangrike sake verloor is.

My verstaan van die Evangelie is dat daar maar een kwalifikasie vir die ewige lewe as teenswoordige en toekomstige werklikheid is: geloof in die voltooide werk van Jesus.

Sy Naam sluit die hemel, ook hier op aarde (die Koninkryk is ʼn komende werklikheid) oop. Niks meer en niks minder nie. Dit plaas die dinge waaroor ons so oortuigend stry in perspektief.

Daar is ʼn Naam gegewe
ʼn Naam so heilig
Daardie Naam kan heel en reinig
Dis die Rots waarop ons staan.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Flemming ·

“Skakerings”, “interpretasie” ? Hoe verskil dit in Bybelse verband van “toegewing”, “afdwaling” ens. ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.