ToekomsVenster: Bid gelowig en moenie twyfel

glas-houer-lig-liggies

Foto: Milan Popovic/Unsplash.com

Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. – Jakobus 1:6-8

“ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.” – Markus 9:23

Sjoe, dis nie maklike dinge waaroor Jakobus skryf nie. Hy kom baie naby aan die leefwêreld van mense soos ons, nie waar nie. Om te bid en absoluut te glo is nie maklik nie. Die “sê nou maar” vraag is altyd teenwoordig en die bose staan gereed om ons in ons geloofsvertroue te ondergrawe. Jakobus het mooi geluister na die woorde en onderrig van sy broer Jesus. As ʼn mens glo en nie twyfel nie kan jy vir die berg sê dat hy homself in die see moet werp en dit sal gebeur.

“Omdat julle geloof te klein is,” sê Hy vir hulle. “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” – Matteus 17:20

Vir hom wat glo kan alles. Niks is buite die vermoë van ʼn mens wat God onvoorwaardelik vertrou nie.

Die metafoor van die golwe van die see is gepas. Dis ʼn borreling hier en daar maar aan die einde net ʼn klomp sand wat op die strand uitspoel. Golwe kom eintlik nêrens nie. Dit het baie potensiaal maar normaalweg spoel dit in klein onbeduidende golfies op die strand uit.

Jakobus gebruik die woord “onbestendig”. Onbeslis, gedurig aan die twyfel, daar is nie vastigheid en koers in so ʼn persoon se lewe nie. Dan is dit sus en dan is dit so. Dan wil hy hierdie kant toe en dan daardie kant toe. Dit bring hom nêrens nie. Ons komplimenteer God deur te glo wat Hy in sy Woord sê Hy sal doen. Om met geloofvertroue te bid en nie te twyfel nie, veral as die antwoord oënskynlik uitbly, is ʼn gawe. Ons elkeen kan dit van die Here vra, nie waar nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.