ToekomsVenster: Blom waar jy geplant is

(Foto: Don Shin/Unsplash)

Jesaja 62:1 – Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie, ter wille van Jerusalem sal ek nie stilbly nie totdat daar vir hom redding deurgebreek het soos ‘n nuwe dag, soos die lig van ‘n brandende fakkel.

In die gelese tekste word van Sion en Jerusalem gepraat. Sion is ʼn metafoor of beeld vir God se Ryk, sy woonplek, die kerk, die verbondvolk, uiteraard Ou Testamenties, die fisiese plek waar die tempel gestaan het.

Jes. 62 het met die na Babiloniese tydvak te doen. Israel leef met die belofte dat die Godsvolk sal terugkeer nadat die tyd van boetedoening in die vreemde verloop het.

Jesaja 62:7 – Julle moenie stilbly nie totdat Hy Jerusalem herstel het, totdat Hy die hele wêreld die roem van Jerusalem laat sing het.

Ek word herinner aan die teks waar Israel hul verlange na die stad van God en die tempel uitspreek. Mens kan nie lofliedere in die vreemde sing nie. Hul voel om eerder hul musiek instrumente aan die bome op te hang. Die vreugde is weg.

Jy sal jou herinner hoedat die Here sy volk aansê om nuttig en pro-aktief te leef in die vreemde en tyd van ontworteling. Blom waar jy geplant is, sê die spreekwoord.

Dit is nie altyd maklik nie maar die roeping van gelowiges. Ongeag wat die omstandighede behels doen wat op die weg van gelowiges lê. Ongeag van waar jy gaan daar is altyd nood. Fisies, emosioneel en geestelik kry mense swaar, ook te midde van Covid-19. Die atmosfeer is swanger met gevoelens van desperaatheid, hartseer, selfs vereensaming en depressie.

Dit is interessant hoe die onweerswolke verdwyn as ʼn mens besig raak met dit wat ʼn verskil kan maak.

Intussen bly die verlange na herstel en genesing ʼn werklikheid. God se beloftes van teenwoordigheid en tussenbeide tree bly waar.

Dit wat ons beleef is net ʼn seisoen lank. Hoe lank die seisoen is weet ons nie maar dat dit sal verbygaan, is sonder twyfel so.

Saam met die besig wees moet God se kinders in gebed bly en intree totdat daar genesing en herstel gekom het.

Dit is somtyds moeilik om te volhard. Die onsekerheid laat ʼn mens allerlei vreemde dinge dink. Jy raak verleë oor jou gedagtes, ook jou gedagtes oor God. Dit is nie nou tyd vir twyfel nie. Dié seisoen roep na geloof, vertroue behou en optree soos mense wat ʼn verwagting het.

Daar kom ʼn dag, dit is dalk nie vandag of môre nie, maar sonder twyfel sal ons eendag terugkyk op hierdie fase in ons lewens en sonder twyfel verklaar

Ps. 46 (Totius se beryming)

God is ’n toevlug in die nood,

’n rots wat altyd vas bly staan,

al dreig die vyand met die dood,

al storm sy leërbendes aan.

Laat dan maar buig en beef

Al wat ons hier omgeef;

Laat berge uit hul stee

Wegwankel in die see –

Ons sal nie beef of rugwaarts gaan.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.