ToekomsVenster: Die fout lê by hom

(Foto: Guillaume de Germain/Unsplash)

Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee – Matt. 11:28

Laatnag, ek skrik myself buite weste, lui die selfoon. Dit is sektorpolisiëring vyf se vrou wat praat. “Dominee, daar is ʼn krisis,” en sy gee die adres. “Die man het probeer selfmoord pleeg en die polisie en ambulans is daar. Die mense het ʼn dominee nodig”.

Ek maak gereed om te ry maar onthou dat ʼn mens daardie tyd van die nag nie op straat mag wees nie. Ek skakel die vriendelike vrou terug en vra hoe nou gemaak? Sy belowe om my dadelik terug te skakel wat sy ook doen.

“Dominee, gaan slaap maar weer. Dinge is onder beheer en die mense sê hulle wil eerder gaan slaap.”

Met moeite kry ek die volgende dag (nadat ek voor dooiemansdeur omgedraai het) uiteindelik die kontakbesonderhede van die mense en stuur twee boodskappe, een vir die man en een vir die vrou. Ek bied my hulp aan en vra of ons ʼn afspraak kan maak.

Albei boodskappe word gelees en later laat weet die vrou my dat sy nie die een met die probleem is nie. Sy het nie hulp nodig nie, dit is haar man wat ʼn groot probleem het. Daarmee is die gesprek afgehandel. Van die man hoor ek niks.

Huwelike is kompleks en huwelikskonflik nog meer. Teen die tyd dat mense hulp soek het dinge al in so ʼn mate versleg dat net ʼn wonderwerk dit kan regstel. Teen daardie tyd was daar al soveel trane, hartseer, oor en weer beskuldigings, kritiek en beledigings dat jy bitter min substansie het om mee te werk. Die aanvanklike liefde vir mekaar lê diep begrawe. Dit het eintlik te laat geword.

Is daar konflik in jou en julle huwelik?

Hoe lank al en wanneer gaan jy iets daadwerkliks daaraan probeer doen?

Deur te roem dat dit nie jou probleem is nie help jy ook nie. Dit vat twee om te dans, ook hierdie “treurdans” word deur twee mense gedans.

Die duiwel, as jy tog nog glo dat daar so iemand is, het mos nou genoeg gesteel.

Gaan jy alles prysgee voor jy hulp soek?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.