ToekomsVenster: Die groter konsert

Foto: Bruno Cervera/Unsplash

Die tyd van die jaar is dit die ene bedrywigheid by die kleuterskole in ons omgewing. Die een na die ander konsert word aangebied en prysuitdelings vind plaas. Kompleet met gradedag word van die voorskoolse outjies afskeid geneem. Die groot mens wêreld lê en wag.

Verbeeldingryke inhoud word skouspelagtig aangebied. Die konsert wat ek pas bygewoon het, het ʼn reis om die wêreld onderneem. Die hele saal was soos die binnekant van ʼn vliegtuig ingeruim en vliegtuigkoekies en water is op elke sitplek gesit. Van die babas af tot by kleuterskoolverlaters het elkeen ʼn beurt gekry. Kompleet met flitsende ligte, polsende musiek, bewegende kameras, vertelling en kostuums is die entoesiastiese gehoor op reis geneem.

Namate die deelnemers groter word verstaan hulle die hele konsert se gedagte. Die kleiner outjies vergaap hulle aan die handwaaiende en soentjie gooiende gehoor. Dit is ʼn gesig van ʼn ander wêreld.

Oupas en oumas, mammas en pappas, vriende en familie is almal daar. Die konsert is glad oor drie aande aangebied omdat daar soveel belangstelling was.

Ek wou voorstel dat hulle die kamera wat die konsert afneem (ouers koop mos die DVD en spog by al wat mens is) die gehoor afneem eerder as die mooi kinders. Dit is ʼn gesig om te sien. Jy moet pal aan iemand se klere trek om hulle te kry sit voor jou. Die gesigte straal, kindjie se naam word hardop uitgeroep, groete word gedeel soos bedelaars op straathoeke (hulle het mos so ʼn kenmerkende handbeweging). Selfone neem foto’s en videogrepe ongeag die beperking op sulke opnames.

“Dit is my kind daai,” wil die ouers uitroep. “Is hy nie net die beste ding sedert mieliepap nie?”

Voel God se oor sy kinders? Geen twyfel nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OWO ·

Ek glo dat God jubel en juig oor sy kinders deurdat ons glo,vertrou en gehoorsaam is aan Hom.Die “mieliepap” metafoor beskryf nie vir my, oor hoe God oor sy kinders voel nie.Dit is ‘n wêreld se voorbeeld sonder betekenis.

Dankbaar ·

O dié dankbaarheid en trots dan weer die mens en geduld vir ieder en elkeen alles, alles tot SY EER ek LOOF en PRYS HOM vir al die skoolpapelelle en herinneringe van al die kinders, wat ‘n voorreg ook vir ouerskap en grootouers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.