ToekomsVenster: Die groter prentjie


Here-is-my-Herder

Argieffoto.

Christus (het) die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. – Ef 5:25-27

As iemand droefheid veroorsaak het, is dit nie vir my wat hy hartseer maak nie, maar vir julle almal, of, om nie te oordryf nie, ten minste ‘n deel van julle. Vir so iemand is die bestraffing deur die meerderheid swaar genoeg. Nou moet julle so iemand liewer vergewe en bemoedig, anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor. Daarom vra ek julle: Bewys liefde aan hom. – 2 Kor 2:5-8

Natuurlik is dit ongemaklik om met mekaar oor sonde te praat. Natuurlik wil ons nie deur ander reggehelp word nie. Dis menslik. As ons egter in gedagte hou dat hierdie vermaning, hierdie reghelp en ophelp nie eenrigting verkeer is nie, maar deel is van die Christelike liefdesgemeenskap waarin ons vir mekaar verantwoordelikheid neem, kry ons ‘n ander perspektief. Immers, ons sien dit gedurig in Paulus se briewe dat ons mekaar moet vermaan, mekaar moet liefhê, mekaar moet onderrig, mekaar moet vergewe, mekaar moet dien en aan mekaar onderdanig moet wees. Niemand verhef homself of haarself oor die ander in die geloofsgemeenskap nie. Soms help ons ander en soms help ander ons.

Daar is egter ‘n belangriker en groter prentjie. Willie Jonker noem vier redes hoekom ons mekaar moet reghelp, dissiplineer en ophelp.

Die eerste is dat mense moet ontdek dat God barmhartig is. Daar sal altyd sonde onder ons wees. Mense loop weg van God af, maar dis ons taak om hulle te oortuig dat hulle mag terugkeer, omdat God genadig is en vergewe.

Tweedens gaan dit oor die heiligheid van sy kerk. Christus het vir sy gemeente gesterf. Die gemeente is sy eiendom. Daarom moet ons soms tuinwerk doen. Soms moet ons snoei of onkruid uittrek. Die grens tussen kerk en wêreld moet duidelik wees.

Derdens gaan dit oor die getuienis van die kerk in die wêreld. As daar geen dissipline in die kerk is nie, geen grens tussen kerk en wêreld nie, kan ons nie ‘n lig vir die wêreld wees nie. As die soldate van Christus in die wêreld dubbele agente is, tref dit die kerk se getuienis in die hart. Ons het geen integriteit as ons die sonde duld en goedkeur nie.

Vierdens gaan dit oor die eer van God. Alles wat tot dusver gesê is word deur hierdie beginsel beheer. Willie Jonker noem sonde ‘n aanranding van God se eer. As ons sonde onder ons duld, skep dit die indruk dat ons nie baie omgee vir God se eer nie.

Dis hoekom ons mekaar vermaan en ophelp, want God wil nie hê dat een persoon verlore sal gaan nie. Sy bruid moet sonder vlek of rimpel wees – heilig. Sy kerk moet ‘n getuie wees. Ons help mekaar sodat die eer van God in die wêreld en in ons lewens herstel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.