ToekomsVenster: Die Here is nie afwesig nie

(Foto: Sharon McCutcheon/Unsplash.)

Rom. 8:37-39 – Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Daar is die mense wat uit die Evangelie verstaan dat kinders van die Here net gelukkig, vervuld en geseënd kan wees. Oorvloed is deel van die pakket, goeie gesondheid en oorwinning elke tree van die lewenspad.

Mens wens uiteraard dat dit so kan wees maar nog die realiteit nog die Evangelie beloof of verseker dit.

Die lewe is stukkend, gebroke, voorlopig, dikwels ʼn stryd. Daar is trane, hartseer, onsekerheid, trauma en pyn. Alle mense word siek, word teleurgesteld, verloor somtyds iets wat kosbaar is en sterf uiteindelik. Geen uitsondering. Dit geld vir alle menser ongeag die teologiese raamwerk wat hy volg. Die probleem is dat wanneer hierdie onbybelse verwagtinge nie realiseer nie sondebokke gesoek word.

Dit is meer dikwels nie die persoon wat die uitkomste verkondig het wat die blaam dra nie maar die reeds lydende kind van die Here.

Sonde, ongeloof, die voorgeslagte, binding van allerlei aard en die duiwel word as die skuldiges geteiken.

So verloor ʼn mens jou vrymoedigheid teenoor God, jou geloofsvertroue word ondermyn, jou uitsig op die lewe benewel. Jou verwagtinge smoor, jou drome verwelk, jou vrymoedigheid word ontneem en jy betree ʼn lewe van selfverwyt en eensaamheid.

Dit is nie wat die Bybel belowe nie. Lees die teks!

Die troos lê daarin dat te midde van watter werklikhede ook al die Here nie afwesig is nie maar ondersteunend aanwesig is. Sy oorwinning staan vas en selfs die dood spreek nie meer die laaste woord nie.

Niks kan ons van sy Goddelike liefde skei nie en te midde van stryd is ons meer as oorwinnaars.

Dat God  “bonatuurlik” kan “ingryp” staan soos ʼn paal bo water. Dat Hy dit somtyds nie doen op die manier wat ons as die aangewese beskou nie, is eweneens waar.

Ons enigste troos in lewe en dood is dat ons aan Jesus Christus behoort. Ook vir jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Blomme ·

Amen.. God is so getrou! Dankie Here dat U ons nooit versaak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.