ToekomsVenster: Die Here maak nie foute nie

(Foto: Christopher Sardegna/Unsplash.)

Habakuk 2:5 – ‘n Hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei, sal nie in sy doel slaag nie, al is hy so gulsig soos die doderyk, so onversadigbaar soos die dood, al versamel hy al die nasies rondom hom, al maak hy gevangenes van al die volke.

Habakuk soos reeds gesê beklae sy lot by die Here. “Waarom” staan voorop in sy gedagte. Dinge verloop darem te veel skeef en deurmekaar. So kan dit nie aangaan nie.

Ek dink as Habakuk moes protesteer op straat soos mense in ons dag doen sou sy plakkaat gelees het, “genoeg is genoeg”. Iewers moet daar ʼn keerpunt, ʼn draaipunt kom.

God sê vir Habakuk dat Hy met die sondes van die volk gaan afreken. Hy stuur die gewetenlose en gewelddadige Babiloniërs om die volk hopelik tot insig te bring. Dit ontstel Habakuk nog meer.

Die Here wil een ongeregtigheid met ʼn ander ongeregtigheid regmaak. Geweld met geweld, onreg met onreg. Soos vir Habakuk maak dit ook vir ons nie heeltemal sin nie.

Daardie Galdeërs is genadeloos. Hulle loop Juda uiteindelik in 587 VC onder die stof. Alles wat kosbaar is word weggedra as oorlogsbuit. Die room van die land word afgeoes. Wat agterbly is wees en verleë.

Die land is verbrand, die tempel is verwoes, die skatte pronk nou in die tempels van afgode.

Kan God so werk, vra Habakuk, ja vra selfs ek en jy?

God se wee is onbekend en somtyds heeltemal onverstaanbaar. Maar die Here maak nie foute nie. Hy weet wat Hy doen.

Later kondig Hy die oordeel oor die trotse Babiloniërs aan. Hulle sal nie wegkom nie. Hulle sonde haal hulle in. Ook hier word geweld met geweld begroet. Hierdie keer is dit God wat die geweld pleeg. Onverstaanbaar, misterieus.

Bostaande vers vorm deel van God se oordeelaankondiging oor Babel. Dit is ook vandag relevant. Daar is ongelukkig, ook binne die Suid Afrikaanse konteks mense wat dink dat God nie sien wat hulle doen nie, dat hulle gaan wegkom met die ongeregtigheid.

Vreeslik is dit om te val in die hande van ʼn lewende God, sê die Woord.

Ongeregtigheid word gestraf. God slaap nie het die ou mense gesê. Trouens dit is die boodskap van Ps. 121, nie waar nie? Daar kom ʼn dag van afrekening.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here ek verstaan nie altyd U wee nie…..maar ek rus in die wete dat U die beste weet…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.