ToekomsVenster: Die Here sien hulle ook

bedelaar-armoede

Argieffoto.

Gister sien ek die letters ICU (I see you) op ʼn straatverkoper se T-hemp. Dit is ʼn advertensie vir elektroniese produkte maar ek wonder of hy die profetiese inslag en belofte daarvan vir sy eie lewe raaksien.

Om op die hoeke van strate van motor tot motor te loop en met onvriendelike en strak gesigte gekonfronteer te word, kan seker nie maklik wees nie. Ek bevind my ook in daardie groep en beleef die gedurige geklop aan my venster irriterend en intimiderend. Ek wil nie my venster oopdraai en nog ʼn papiertjie van ʼn diens en produk waarin ek nie belangstel, ontvang nie. Ek het al ʼn hele versameling daarvan. Ek ignoreer die mense soos stopstrate, maak of hulle nie bestaan nie en vermy oogkontak omdat dit gewoonlik aanleiding gee tot ʼn opdringerige verkoopsknapie wat nie nee vir ʼn antwoord aanvaar nie. Die meeste van ons kan met hierdie scenario identifiseer.

Die Here werk met my. Hy sê die optrede behaag Hom nie.

Hy herinner my daaraan dat Hy dié mense raaksien. Trouens Hy skryf dit selfs op hulle T-hemde om hulle daaraan te herinner dat Hy altyd daar is. Ek het die sekuriteit van ʼn inkomste, huis en ander materiële dinge. Dit is alles genade gawes. Ek het dit nie en ek kan dit nooit ook verdien nie. Dit kon ek gewees het op straat.

Toegegee daar is kansvatters. Ek respekteer mense wat selfs met ʼn vullissak staan en probeer om jou motor skoon te kry terwyl ander hul probleme met handgeskrewe plakkate uitkontrakteer.

Maar die Here sien hulle ook. Dit kon ek gewees het.

Ai Here, ek staan beskaamd voor U oor die negatiwiteit wat ek somtyds ervaar teenoor straatverkoper en bedelaars. Vergewe my die harteloosheid. Wys my dan hoe U wil hê ek moet optree.

Dankie dat ek ook vandag ʼn T-hemp kan aantrek met die woorde “I see you” (ICU) daarop geskrywe.

Dit is my enigste hoop.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Von ·

Here Jesus U het die pad vir ons kom stap …..barmhartig en vol genade……ek Eer U met my hele hart

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.