ToekomsVenster: Die lewe is meer as hierdie dinge

(Foto: Laura Kapfer/Unsplash)

“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? – Matteus 6:25

Ons word tans oorrompel deur soveel slegte nuus dat jy nie weet hoe jy dit het nie. Op bykans alle fronte is daar dinge wat gebeur wat ʼn mens hewig ontstel.

Sommige daarvan kan nie aan ʼn mens toegeskryf word nie. Dit kom ongenooid op ons af en ons moet die genade vind om daarmee te deel Die Covid-19-virus is daarvan ʼn voorbeeld.

Natuurrampe is ʼn ander voorbeeld. Die lewe gebeur en daarmee moet ons rekening hou. Inderdaad leer wetenskaplikes belangrike lesse wat in die toekoms beter beskerming kan bied. Ons is egter nou hier en moet daarmee handel.

Die hantering van die krisis beide deur die owerheid en individue is natuurlik ʼn ander storie en ʼn onderwerp wat baie emosie te weeg bring.

Ander dinge wat die lewe onplesierig maak is politieke en ekonomiese werklikhede wat die grond onder ons uitgrawe. Die duiselingwekkende bedrae geld wat vermors, verduister en gesteel word laat ʼn mens sprakeloos.

Die omvang van armoede en werkloosheid spreek ʼn mens diep aan.

Ja, daar is ontstellende dinge waarmee ons gekonfronteer word. Maar die lewe is meer as hierdie dinge, sê die Woord van die Here. As ons hele lewe deur dit wat skort gedefinieer word, is ons bra arm en dit wil ons nie wees nie.

Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg tydens die lewe wat God hom in hierdie wêreld gee. – Prediker 8:15

Dink ʼn oomblik na oor die ander dinge wat die lewe die moeite werd maak. Al die boeke van die wêreld sal dit nooit volledig kan beskryf nie.

Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie. – Johannes 21:25

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.