ToekomsVenster: Die monster van rassisme

Foto: Juanita Badenhorst.

Lees: Galasiërs 5:22-26:

“22 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23 nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24 Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25 Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. 26 Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.”

Die monster van rassisme is nog lank nie nek omgedraai nie! Met die aanbreek van die Nuwe Suid-Afrika het ons almal gedroom van ons nuwe land, van die reënboogland, waar wit en swart en bruin nie meer gaan saak maak nie, waar mense oor alle rassegrense heen na mekaar gaan uitreik, dat ons mekaar nuut sal ontdek en geniet. Plek-plek gebeur dit, by die werkplek, in gesinne, op skoolbanke, ook in kerke. Maar die wrede werklikheid is dat daar nog altyd rassisme en rassevooroordeel in ons land is. Jy sien dit op straat, jy hoor dit in gesprekke om jou, jy ervaar hoe dit dikwels vir politieke gewin aangeblaas word. Soms skrik jy vir die oorblyfsels van rassisme in jou eie hart!

Ons as gelowiges het die onontwykbare roeping om rassisme uit ons samelewing te verwyder. Ons moet met al die erns waaroor ons beskik vir almal om ons vertel dat God die Vader van alle mense is; dat Hy alle groepe liefhet en dat Hy aan die einde van die tye Sy kinders uit elke volk en taal en ras om Sy troon sal vergader. Die heel beste manier waarop die kerk die boodskap kan bring, is om onder sy eie geledere te demonstreer dat mense van alle rassegroepe aan een liggaam kan behoort, dat hulle God saam kan loof en prys, dat alle mure van verwydering tussen hulle deur Christus weggeneem is. Ongelukkig is die teendeel dikwels waar: Christene is net so rassisties en kerke wys min van die liefde van Jesus aan die wêreld. Daar word dikwels gesê dat Sondagoggende om 10 uur die mees geïsoleerde, aparte tyd van die hele week is! As Christene van alle kerke en rassegroepe almal op 16 Junie, Jeugdag, in Soweto byeenkom, hande vat, saam sing en saam bid, sal dit ’n groot bydrae lewer om die monster van rassisme nek om te draai.

Gebed:

O, Vader van ons Here Jesus Christus, ons buig voor u troon van genade om U te vra om ons te help om die houvas van rassisme oor ons land te breek. Ons is jammer oor die nalatenskap van rassisme in ons land. Vergewe ons as Christene vir ons bydrae tot hierdie vesting deur ons ideologieë van die verlede en die hede. Dit is nie tot eer van U Naam nie. Bevry ons van rassisme in ons eie harte en help ons om mekaar waarlik as medekinders van U te aanvaar.

Leefwyse:

Probeer om vandag na een persoon van ʼn ander rassegroep uit te reik. Praat met hom / haar. Vra jou gespreksgenoot uit oor hoe hy / sy rassisme in ons land ervaar – en hoe ons dit kan oorkom.

Om oor na te dink:

Om bevry van vooroordeel en rassisme in ons land te leef, vra nogal baie. Die jonger geslag kry dit skynbaar makliker reg as ons oueres. Wat kan ons van ons kinders in hierdie verband leer?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie ·

Deur die diversiteit van rasse te misken, word rassisme direk aangeblaas. Die reenboognasie etopia kan en sal nooit werk nie. Daar is te veel diepliggende kulturele verskille tussen bevolkingsgroepe in ons land. Hoe veregaande dit ookal mag klink, voordat daar nie n politieke model bestaan wat hierdie beginsel erken in SA, sal daar rassisme en konflik wees.

Hans ·

AS die president n rassis is dan sal die mense wat vir hom stem ook rassiste wees.Elke opvolger in hierdie land is erger as die vorige.Net God kan ons help.

Stofskoen ·

“Met die aanbreek van die Nuwe Suid-Afrika het ons almal gedroom…”
Onwaar, beslis nie almal nie, net sekere groepe.
Om rasse te ontken is die selfde agenda as om die verskil tussen veskillende geslagte te onken.
In tagtigs en negentigs was die aanslag op rasse en homofobie, vir die volgende ruk gaan ons die aanlag beleef om geslagte te ontken, pedofiele te aanvaar as geeste siekes wat eerder deur die gemeenskap bygestaan moet word en kanibalisme as ‘n gewone menlike emosie en toestand is.
Kyk fyn na die media en wat die wêreld se politieke sterre en Holywood sterre besig is om te verkondig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.