ToekomsVenster: Die offer van Jesus Christus

vrou-bid-vrees-dink

(Foto: Ben White/Unsplash)

Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. – Hebreërs 10:11

Die offerdiens van die ou Testament is aan ons bekend. Gedurende die verloop van eeue voordat Jesus van Nasaret op die toneel verskyn het, is honderde duisende diere as sondoffers geoffer.

Gelowiges het by die tempel aangedoen vergesel van die offerdier wat hulle saamgebring het. Die dier is aan die priester gegee wat namens die tempel besoekers die offer gebring het. Daar was duidelike voorskrifte oor hoe daardie offers gebring moes word.

Op die groot Versoendag, eenmaal per jaar, het die Hoëpriester die allerheiligste gedeelte van die tempel betree en versoening gedoen vir die sondes van die volk as geheel. Die offerdier se bloed is aan die kultiese voorwerpe gesmeer as teken van boetedoening vir die sonde wat gedoen is.

Benewens ander offers wat gebring is, is een bokram die woestyn ingejaag wat simbolies die sonde van die volk weggedra het.

Beide priester en die persoon wat sy offerhande bring het instinktief beleef dat die bloed van offerdiere hulle nie regtig van hul sondeskuld kon bevry nie. Veel eerder het dit hul herinner aan die Lam van God wat in die volheid van die tyd sy verskyning sou maak en vir eens en vir altyd met die ongeregtigheid van mense sou afreken, deur sy lewe as offer aan te bied.

Die teks spreek my diep aan. Mag ek na die Engels verwys: ‘Day after day every priest stands and performs his religious duties; again and again he offers the same sacrifices, which can never take away sins’.

Ek wonder of ons dalk ook elke dag dieselfde ding oor en oor doen, uiteraard in ons eie krag en vermoë, sonder om die gewenste resultate te sien.

Môre kyk ons na die oplossing.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.