ToekomsVenster: Dié waarheid


wonderwerk

Argieffoto.

Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Elkeen wat nie by die leer oor Christus bly nie, maar daaraan verander, erken God nie. Wie in dié leer bly, erken sowel die Vader as die Seun. As daar iemand na julle toe kom wat ‘n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen. – 1 Joh 1:1 en 2 Joh 1:9-11

Ek dink en bid dikwels vir mense wat weens hulle geloof uit hulle huise en dorpe verjaag word. Soms word hulle doodgemaak. Soms word hulle in tronke gegooi. Hulle kan dit nie waag om ’n woord oor Jesus te praat nie. Soms moet hulle dit selfs van hulle naaste familie weghou dat hulle Christene geword het.

Ons leef in ’n gemaklike situasie. Ons mag sê wat ons glo. Dit neem egter nie weg dat die Here se kerk in die sogenaamde vrye wêreld sonder uitdagings is nie. Een van die groot uitdagings is om getrou aan die waarheid van die evangelie van Jesus Christus te bly.

Johannes skryf sy briewe aan mense wat hierdie uitdaging moes hanteer. Ons kan uit sy briewe aflei dat daar n hewige stryd in die gemeentes en omgewing oor die persoon van Jesus gewoed het. Sommige mense het die gemeente verlaat (1 Joh 2:19).

Johannes is baie radikaal oor hierdie mense. Hy noem hulle leuenaars en antichriste (1 Joh 2:22,23; 4:3; 2 Joh 1:7). Hy sê dat hierdie mense nie regtig gemeenskap met God het nie (2 Joh 1:9). Hulle het nie die Gees van God nie (1 Joh 4:3). Die gemeente moet hierdie mense nie groet of gasvry teenoor hulle wees nie (2 Joh 1:10).

Wat kan so erg wees dat Christene so radikaal word? Dit gaan oor Jesus. Daar is baie mense wat Jesus as ’n goeie mens, ’n wonderlike voorbeeld, ’n buitengewone mens beskou. Hulle bewonder Hom. Hulle aanvaar egter nie dat Hy die ewige Seun van God is nie. Hulle verwerp die gedagte dat Jesus waarlik God is wat mens geword het. Dis waarteen Johannes so radikaal uitvaar.

Hoekom? Omdat so ’n opvatting oor Jesus sou beteken dat ons nie gered is nie. Slegs God kan ons red. Deur Jesus kom woon God onder ons. Sy offer neem ons sonde weg. Hy versoen, bring bymekaar wat weens sonde verwyder was – God en ons (1 Joh 2:1,2).

Verdraagsaamheid het die nuwe modewoord geword. Dis amper die nuwe evangelie. Ja, ons moet alle mense liefhê soos God hulle liefhet. Ons moet verdraagsaam wees, maar ons Christelike gemeenskap met mense het tog grense: wanneer Jesus se persoon aangetas word, plaas dit die hele Christelike kerk se bestaan op die spel. Dan staan ons vas – al kos dit alles! Immers, sou ons ’n kerk sonder Hom wees?

Ons gemeente is die produk van die waarheid wat in Jesus geopenbaar is. Hierdie waarheid is aan ons gegee om te verkondig. Die gemeente, skryf Paulus, is die draer en beskermer van die waarheid (1 Tim 3:15).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ben (:-) ·

Hoekom sou `n leraar `n preekteks nodig he as hy werklik `n kind van GOD is…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.