ToekomsVenster: Die wêreld is nie ons tuiste nie

(Foto: Simon Berger/Unsplash.)

1 Pet. 2:11 – Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe.

Daar is ʼn fyn balans tussen ʼn verlange na die ewigheid enersyds en liefde en waardering vir die lewe hier en nou, andersyds.

Die lewe soos ons dit ken en ervaar is ʼn baie kosbare ervaring. God bedoeling was sekerlik nie dat ons bestaan op aarde een langdurige foltering moet wees nie. Inteendeel, die lewe op aarde, so kortstondig en voorlopig as wat dit mag wees, is ʼn heerlike voorreg en kan en moet terdeë geniet word.

Daar is soveel aspekte van ons aardse bestaan, as ek dit reg verstaan, wat nie deel van die nuwe bedeling sal wees nie. Ons sal dit ook nie mis nie omdat ons in alle opsigte meer as tevrede en tuis sal wees.

Huwelik en gesinsverhoudinge soos ons dit hier en nou beleef sal nie in die ewigheid bestaan nie. Ek is nie seker of braaivlies, sonskyn en rugby daarvan deel gaan wees nie. ʼn Lekker glas wyn met sonsonderhang en ʼn warm omhelsing voor die kaggelvuur is eweneens nie deel van die toekoms nie.

Dit sal so hartseer wees as ons eendag moet erken dat ons die mooi gawes by ons laat verbygaan het. Ons was te besig om te, en daar kan jy jou eie voorbeelde noem, te werk, te verskil, te oordeel, te baklei, geld te maak, ens. Elkeen van hierdie dinge het sy plek en binne konteks is dit nie opsigself verkeerd nie. Maar, as dit al is waaroor die lewe gaan is ons arm en verwaarloos.

My verstaan is dat ons op aarde die grondwerk doen vir ons bestaan in die ewigheid. Ek glo dat verhoudinge, nuwe inhoud en vorm tog voortgaan. Ons sal dalk onthou wat ons alles op aarde gedoen het, die mooi herinneringe herroep sonder om daarna terug te verlang.

Nog meer belangrik is die basisverhouding met ons Vader. As ons Hom nie hier geken het nie sal ons Hom nie daar leer ken nie. Dit sal te laat wees.

Ja, die wêreld is nie my tuiste nie. Ek mag nie so veranker wees aan die teenwoordige dat niks my daarvan kan losmaak sonder skade nie. Ek leef in die verwagting van die nuwe dag waar daar nie meer pyn en hartseer sal wees nie. Inderdaad ʼn blye dag.

Maar intussen maak en nog ʼn koppie stomende regte egte koffie, gooi ek nog ʼn tjoppie op die vuur, nooi ek vriende oor, kyk ek ʼn TV-program, verlustig my in my kleinkinders en hou my wederhelfte styf vas.

Geniet die lewe. Ons bly nie vir altyd hier nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.