ToekomsVenster: Die winter gaan ook verby

(Foto: Alex/Unsplash)

Jes. 25:4-5 – Die geweld van die wrede volk is soos ‘n winterstorm, soos sonsteek in ‘n dor land. U het die rumoer van die vyand laat ophou, die oorwinningsliedere van die trotse volk laat verdwyn soos hitte verdwyn onder die skaduwee van ‘n wolk.

Die intensiteit van die verdrukking en onreg wat teenoor die verbondsvolk gepleeg word, word metafories as ʼn “winterstorm” beskryf.

Winter is ʼn tyd van koue en ongemak. Ek ken min mense wat winter verkies. Ek is ʼn sonskyn mens, hoe warmer hoe beter. Ons het almal ons voorkeur aanvoeling vir die seisoene. Dit sal interessant wees om te hoor waarvan jy hou?

Winter voor ʼn kaggelvuur, sop wat op die stoof prut, desnoods ʼn glasie rooi wyn is iets heeltemal anders as winter in ʼn informele struktuur, gapende openinge waardeur die wind koers kies, geriewe wat buite geleë en geen plafon om die koue te keer nie.

As Israel se vyande hulle uit hul huise verdryf, hul soos in die tyd van Gideon in rotsskeure moet skuil, huis en haard met die grond gelyk gemaak is en dit is boonop ʼn koue wintersnag onder die sterrehemel is jou ervaring van winter iets heel anders. Dit hang dus volledig af van in watter konteks jy jou winter tegemoet moet gaan.

Winter dui dus ook op die minder goeie, die uitdagende, die uitputtende tye in ʼn mens se lewe waar jy emosionele, geestelike en ook fisiese uitdagings moet oorleef. Dan bid jy kliphard dat die eerste teken van die naderende lente moet verskyn.

God is die een wat die winters in ons lewens draaglik maak. Ek wens ek kon sê dat Hy dit volledig opskort maar dit gebeur nie altyd nie. Hy is besig met vorming, die skool van die lewe is somtyds ongenaakbaar, dissipelskap is nie vir mense wat maklik tou opgooi nie.

Toegegee, alles is genade onverdiende guns alleen maar iewers moet ʼn mens ʼn bietjie rug graad ook wys.

Dan is die belofte soos die eerste strale van die son wat die nag verdryf, soos die eerste tekens van groei, soos deurbrake op die slagveld van jou eie worstelbestaan waar jy gedink het jy nooit sal kan ontsnap nie.

Die son kom altyd weer op, die Son van geregtigheid met genesing in sy strale laat God se kinders weer bokspring van vreugde.

Dit bly nie altyd winter nie. As jy tans worstel en wonder, weet dat God jou nie oorgelewer het aan jou omstandighede nie. Soos hitte onder die skaduwee van ʼn wolk sal die aanslag plek maak vir guns en seën.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.