ToekomsVenster: ‘Dit is nou ook hier’

vrou-bid-gebed

Foto: Ben White/unsplash.com

Met die aankondiging dat die eerste bevestigde geval van die koronavirus (Covid-19) in KwaZulu-Natal woon, het die waarskuwingsligte begin rooi flikker. Wêreldwyd en plaaslik word groot byeenkomste gekanselleer, markte reageer negatief op die virus, winkelrakke raak leeg, gesigsmaskers en toiletpapier kry nuwe betekenis, grense word bewaak en reisigers gemoniteer, mense word vir twee tot drie weke onder kwarantyn geplaas.

Die vraag of die Here met ons praat is aktueel en nodig. Inderdaad gebruik Hy alle gebeure om ons bewus te maak van ons:

  • Radikale afhanklikheid en nietigheid.
  • Die kortstondigheid van die lewe.
  • Die beperkte vermoëns en kennis wat mense aan die einde van die dag het.
  • Die noodsaak van volgehoue en gelowige gebed.
  • Persoonlike verantwoordelikheid, higiëne en selfsorg.
  • Ons interafhanklikheid van mekaar.
  • Die onvermoë van ons sekuriteitstelsels om ons te beskerm.
  • Die kwesbaarheid van die skepping.

Ek vind my nie tuis by mense wat beweer dat God ons straf enersyds of dat die natuur die bevolking uitdun nie. Ek vind my wel tuis by mense wat gebeure soos hierdie verantwoordelik interpreteer en pro aktief iets daaraan probeer doen.

Volgens FEBA Radio SA kom die volgende getuienis uit China, met name Wuhan waar die epidemie sy ontstaan het: “Al is die epidemie stelselmatig besig om in een van die ergste tragedies in die laaste tyd te ontaard, bly ons sterk in ons geloof”.

“Al vind ons onsself in depressiewe en donker tye, kan ons nie toelaat dat ons harte met mismoedigheid, wat soos ʼn virus versprei, gevul word nie. Daarom moet ons sterk in die diens van God staan. Mag die Here aanhou om my te beskerm en my meer en meer soos Christus te vorm,” sê ʼn ander luisteraar van Wuhan.

Ps. 91 het my vandag weer bemoedig:

Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frieda ·

Dankie vir hierdie boodskap Ds Pelser dit laat my opnuut besef geloof is vertroue in die veilige vesting van onse Grote God.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.