ToekomsVenster: Dit wat regtig belangrik is

(Foto: Jeffrey Workman/Unsplash.)

Matt 15:1-2, 11 – In dié tyd het daar Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem af by Jesus gekom en Hom gevra: “Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte? As hulle gaan eet, was hulle nie hulle hande nie.” Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Julle moet nou luister en mooi verstaan! 11 – Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ‘n mens onrein.”

Iewers bid Paulus dat die gemeente die genade mag vind om te onderskei waarop dit regtig aankom.

Fil. 1: 9-10  Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes kom al die op pad van Jerusalem af om Jesus in ʼn strik te vang. Hulle is op die uitkyk hoe en waar hulle sy bediening ongeloofwaardig kan maak.

Wat ʼn siek, bedenklike en voortvarende agenda nie.

Hul reaksie as Jesus hulle vriendelik antwoord (die dissipels merk op dat die besoekers hulle ietwat vererg het) bevestig dat hulle geen voorneme had om iets betekenisvol by die Here te leer nie. Anders as die skares wat agter Jesus aanloop en sy woorde indrink is hierdie mense so vol vooroordeel, agterdog en jaloesie dat hulle dit nie eers kan oorweeg dat Hy tog wel iets het om mee te deel nie.

Die saak waarby hulle aan hak hou verband met allerlei reinigingsgebruike. Die Fariseërs het opgemerk dat die dissipels nie hul hande was voor hulle eet nie. Ek twyfel nie vir ʼn oomblik daaraan dat die dissipels moedswillig met vuil hande geëet het nie. Dit gaan nie oor die hande was nie, dit gaan inderdaad oor die seremoniële instelling van hande was.

Aanvanklik het die priesters en amptenare wat by die tempel diens gedoen het onder andere hande gewas as deel van ʼn seremoniële reiniging. Die Fariseërs het hierdie gebruik onder die res van die volk gevestig en dit is dus eintlik hul bedenklike geloofwaardigheid en vermeende gesag wat hier verontagsaam word.

Jesus se antwoord wys daarop dat wat by die mond uitkom verraai wat binne aan die gang is.

Ek is bekommerd dat die kerk somtyds soos die Fariseërs van destyds mense aan mensgemaakte reëls wil bind eerder as aan die gesag van God se Woord.

Die gevaar om uiterlik skoon maar binnekant vol doodsbeendere te wees is nie teoreties nie.

Ek sou dink dat die kerk en gelowiges te midde van Covid-19 sou onderskei wat regtig belangrik is.

In stede blyk dit dat sommige namate dinge normaliseer net weer hul hartseer agendas, wat ver verwyder is van die hart van God, optel en tyd, energie en bronne daarop vermors.

Ai, mag ons betyds leer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.