ToekomsVenster: Droom vir ’n gelukkiger lewe

mexikaanse-sonsondergang

Foto: Sofía Roblero/Unsplash.com

Waarheen is jy op pad? Is daar ʼn droom in jou hart? Wat het dit met God en ander mense te doen ?

Drome dra ʼn mens deur moeilike tye. Drome bevestig dat jy meer is as jou omstandighede en dat dit nie die laaste woord oor jou spreek nie. Dis mense wat te midde van en ten spyte van omstandighede bly droom wat die verbeelding aangryp en ons helde en mentors word.

Wie droom, gee nie so maklik op nie. Om drome te koester gee lewensenergie en motiveer jou.

Josef en sy drome is bekend. Sy broers, selfs sy pa het sy drome as effe arrogant beleef. Miskien kon Josef sy drome met ʼn bietjie nederigheid gedeel het. Dit was egter Josef se drome wat hom in die put en die gevangenis gedra het. Daarsonder sou hy gou opgegee het.

Mens verstaan nie noodwendig die volle implikasie van jou droom nie, gelukkig ook nie wat van jou gevra mag word op weg na die vervulling daarvan nie. Drome kom teen ʼn prys. Tog weet jy dat as jy die droom laat vaar jy met die lewe opgegee het.

Drome laat jóú nie beter lyk nie. Drome is nie daar om jou beter te laat voel oor jouself nie. Drome is soos ʼn magneet wat jou die toekoms intrek en innooi. Drome bevestig dat jy nie die produk van jou omstandighede is nie. Almal het omstandighede, dis deel van die lewe. Min mense se lewens is ideaal, selfs die rykste onder ons sal daarmee saamstem.

Innerlike krag, energie en bevrediging kan nie met geld of besittings gekoop word nie. ʼn Mens is veel meer as die somtotaal van sy bankrekening en beleggings, aardse besit. Mense is Godsbeelde, geskep om die lewe vir ander beter te maak.

Drome waarin jy die hoofkarakter is en bly strand op droë grond. Dis eers wanneer jy eerlik vra wat jou droom met ander en met God te doen het en dit eerlik antwoord dat jy agterkom of die droom die moeite werd is. Die Bybel sê immers ons is geskep en gekoop om ons met die goeie besig te hou, om die Koninkryk op aarde momentum te gee, om genesing, troos, uitkoms en hoop te bring.

Droom jy? Wat droom jy? Wat het jy as jou droom bewaarheid word? Wat het jou droom met God en ander te doen?

Ef.2:10 – God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Psalms 126:1 – ‘n Pelgrimslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos ‘n droom

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frieda ·

Vandag sê ek net DANKIE HERE vir al my sëeninge uit U hand.

Maria ·

Ek glo nie aan dag drome dit soos n storie boek. Maar diep en helder en voel werdlikheid se drome wan jou self af kom nie Ja glo dit maar moeilik om te kan verstaan wat dit betekend soos simbolis”betekenis” . As dit gebeur volgends jou drome onthou jy die drome baie intersant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.