ToekomsVenster: Ek is ’n gestuurde


Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Efesiërs 2:19 Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.

Ons sluit nou aan by gister se dagstukkie. Jy het weer besef jy word geroep; nou lees jy gereeld die Bybel op ’n bepaalde manier en ek glo jy besef dat jy nou met ander sal moet praat oor die evangelie. Jy is die draer van die evangelie vir iemand anders. (Onthou, jy kan nie die evangelie aanvaar nie, jy kan dit net verwerp. Die evangelie is vir jou gegee, jy het dit – jy kan alleen sê: ek kies om dit nie te aanvaar nie!)

Die Bybelteks wat ons lees, gebruik beelde om te verduidelik hoe ons status verander het vandat ons glo. Ek is nie meer ’n bywoner nie, maar ʼn burger (in die outyd was ’n bywoner iemand wat op ’n plaas gewerk het, sonder enige regte). Ek is ’n lid van die huisgesin. Ek is volwaardig kind van God. Ek sit aan Sy etenstafel en slaap in Sy huis as Sy kind.

Om ons verhouding met ons Vader te vier, gebruik ons verskillende name vir onsself: Christen, boodskapper, volgeling, sendeling of gestuurde.

As volgeling wat draer is van die evangelie, wil ons in hierdie dagstukkie kies om die woord “gestuurde” te gebruik. As gelowige is ek ’n gestuurde, ’n draer van die evangelie en word ek gestuur om die evangelie van Jesus Christus aan mense te verkondig. Gestuur beteken nie dat ek met papiere by iemand anders aankom nie, ek is nie ’n koerier wat ’n boodskap of iets kom afgee nie, maar ek is ambassadeur van die Een wat my stuur.

Gebed:

Here, U gee my ’n groot taak. Hoe kan ek U evangeliedraer wees? Ek voel baie soos Moses wat verskonings uitgedink het, maar Here U het al my verskonings stil gemaak. Gee my krag, aanvoeling en sensitiwiteit om U evangelie oor te dra. Amen.

Leefwyse:

Ek sal jou vandag ’n gestuurde noem. Jy is geroep, lees die Bybel gereeld en nou is dit tyd dat jy jou plek inneem in die Koninkryk van God. As ambassadeur van hierdie Koninkryk moet jy só leef dat ander ook deel wil word van die Koninkryk.

Iets om vandag oor na te dink:

Dink aan die byname wat kinders mekaar gegee het. Ou grote, stompie, bloue ensovoorts – elke naam het iets gesê van die persoon. Wat dink jy sê die naam “gestuurde”?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

neelsie ·

Leef soos geesvervulde mense.
Bekeer jou en vra dan vir God die gawe van die Heilige Gees.
God bly by Sy beloftes as ons volgens Sy wil bid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.