ToekomsVenster: ‘Ek sal hul sonde vergewe en hul land genees’

kruis-in-die-see-korea

Foto: Hpuppet/Pixabay.com

Lees: 2 Kronieke 7:13-14:

“13 As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, 14 en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.”

Op my boekrak staan ’n AK47-patroondoppie wat oopgesny is en waarvan ’n klein kruisie gemaak is. Elke keer as ek daarna kyk, is ek in my gedagtes terug in Porto Alegre, Brasilië, by die volvergadering van die Wêreldraad van Kerke. Dié dag het aan die ortodokse Christene in die Midde-Ooste behoort, wat vir ons vertel het van die aanhoudende verwoestende oorloë in hulle gebied. Die Christene kry veral swaar. Hulle word gedurig geteiken en vervolg en as die bomme bars en die koeëls fluit, het hulle geen plek om heen te vlug nie. Maar ná elke veldslag gaan hulle die slagveld binne om die gewondes te help versorg – en om die patroondoppies op te tel. Die doppies word oopgesny en daar word kruisies van gemaak. Dit word uitgedeel om aan die wêreld te verkondig dat selfs in die bloedigste gevegte Jesus die Vors van Vrede is; dat Hy aan die kruis gesterf het om die stukkende wêreld heel te maak.

Ons het oor nege weke oor baie dinge gepraat: oor die verlede en die hede. Ons het oor ons verwagtings vir die toekoms, en oor die teleurstellings van vandag nagedink. Ons het gebid – en met goeie rede. Ons land is ernstig in die moeilikheid: droogte, misoeste, honger, geweld, politieke onrus, haat, ontevredenheid onder mense, die natuur wat op allerlei maniere verwoes word – al die dinge waaroor ons die afgelope veertig dae gepraat en gebid het.

Het dit nie tyd geword dat ons die patroondoppies op ons slagvelde gaan optel nie?

Gebed:

Formuleer vandag op ʼn stukkie papier in een sin jou eie ernstigste gebed vir ons land. Lees dit voor en bid saam.

Leefstyl:

Daar is baie maniere waarop ons, by wyse van spreke, die patroondoppies om ons kan optel – om daarvan kruise te maak. Dit vra van ons nie net sekere dade nie, maar ʼn styl van lewe.

Om oor na te dink:

Hoe kan ons die gebed van 2 Kronieke 7 uitleef? Het die verskillende onderwerpe waaraan ons gedurende die nege weke aandag gegee het, jou nuwe insigte gegee?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Roosmaryn ·

Ons moet terugkeer na God toe, ons sonde skree ten hemele!!! God sal ons nie seen as ons vashou aan sondes van “kwaadpraat”, “materialisme”, “owerspel”, “afgodediens”, “leuens”, ens. nie!!! Is dit toevallig dat die plaas waar Angus Buchan se byeenkoms gehou is, WILDE-ALS heet en dat God in Sy Woord se Hy gee afvallige mense Wilde-als om te eet!?? Nee, ek dink nie dis toevallig nie, ons is in groot moeilikheid by God, daarom….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.