ToekomsVenster: Ek vertrou nie

(Foto: Jess Bailey/Unsplash)

Ek sou julle kon bemoedig met my woorde, maar niksseggende woorde sou ek terughou. – Job 16:5

Dit is inderdaad so dat gesondheid ʼn wonderbaarlike gawe is. Oorweeg dit gerus om die vraag, “hoe gaan dit met jou?”, te antwoord met ʼn dankbare “gesond en geseënd, dankie”, in stede van die bekende en geykte “dit help nie om te kla nie”.

Om die waarheid te sê, die meeste van ons het, in vergelyking met ander mense in ons omgewing en land, geen rede om te kla nie. Ons kla met die spreekwoordelike witbrood onder die arm. Ja, selfs ek is ook daaraan skuldig.

Ek luister na die luisteraars wat in bel op ʼn bekende Afrikaanse radiostasie. Hulle reageer op ʼn gesprek waar daar gesels word oor entstowwe en die onderskeie variante daarvan.

Daar word gesels oor die beskikbaarheid van die entstof, en of die beloftes van die owerheid daaroor ʼn vae droom gaan bly. Die kenners is erkende en deurwinterde wetenskaplikes en werk met inligting wat deur navorsing, waar beskikbaar, ondersteun word.

Die luisteraars is egter wantrouig.

Daarmee wil ek nie suggereer dat Jan en alleman nie op ʼn opinie geregtig is nie, inteendeel. Ek dink dit is een van die voordele van ons tyd, ons begin sê hoe ons voel en dink, en ons neem aan die gesprek deel.

Dit is die ongebreidelde wantroue as vertrekpunt wat my ietwat ontsenu.

Is ons konsekwent in ons wantroue? Wie verskaf ons inligting en hoe ingelig is ons werklik? Hoeveel daarvan is net praatjies om die braaivleisvuur, gerugte wat op sosiale media versprei en vir soetkoek opgeëet word, en het eintlik bitter min substansie?

Ek wil my verstuit om te sê dat vertroue in God ook vertroue in mekaar tot ʼn sekere mate veronderstel.

Ons word ʼn siniese, kritiese en selfs ondankbare klomp mense in Suid-Afrika.

Alles is nie net altyd sleg nie.

Jy het ʼn keuse maar moet ander nie die geleentheid ontsê om dalk gehelp te word nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.