ToekomsVenster: Gebed is ’n goue bak vol wierook

goue-sterre-nag-melkweg

Foto: Aperture Vintage/Unsplash.com

Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het ‘n siter gehad en ‘n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges. – Openbaring 5:8

Gebed wat in geloof en deur die Heilige Gees gebid word is soos reukwerk in die teenwoordigheid van God. Uiteraard kan geen mens hom die gebeure soos dit in die hemel plaasvind voorstel nie. Ons word in metaforiese taal ʼn kykie gegee in die aktiwiteite voor die troon van God.

Wierook het ʼn aangename geur en het met die verering en aanbidding van God te doen. Hier word die gebed van gelowiges met reukwerk vergelyk. Dit vorm deel van die aktiwiteite in die hemel. Dit is asof ons deur ons gebede ingetrek word in die lof en aanbidding waarvan hier geskryf word.

Die lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge, tekenend van die ou en nuwe Testamentiese geloofsgemeenskap, kniel voor die Lam van God. Hulle staan in totale verwondering voor die een wat die boekrol ontvang nadat daar aanvanklik ʼn in weeklaag uitgebreek is omdat niemand waardig was om dit te neem nie.

Die Een wat die boekrol neem is in staat om daaraan uitvoering te gee. Hy is bo alles verhewe en verteenwoordig absolute gesag.

Die gebede van die gelowiges word grafies as goue bakke beskryf. Die gebede is kosbaar daarom word dit in goeie bakke opgevang. Onder begeleiding van siters word die gebede as ʼn offer voor die troon van genade uitgestort. Die gebede vorm deel van die lofbetuiging van die geloofsgemeenskap. Aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam kom die lof, eer en verheerliking toe, word getuig.

Het jy al daaroor nagedink dat jou gebede, soos die van alle ander gelowiges, nie iewers in die niet verdwyn of versand nie, maar tuiskom as deel van ʼn hemelse aanbiddingsritueel.

Miskien sal ons groter erns maak met ons gebede as ons iets hiervan snap.

“God se saak is verbind tot mense, God verbind Homself aan mense. Biddende mense is die vise-regente (ryksbestuurders) van God; hulle doen Sy werk en voer Sy planne uit.” ~ E.M. Bounds

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Antiestabliesment ·

‘n goue bak vol wierook? Jip, ‘all up in smoke’

SM ·

Wonderlik en inspirerend is die metaforiese taal van die Bybel – soos die beeld van die goue wierookbak vol gebede aan die Hemelse Vader se voete in Openbaring. Nie almal verstaan hierdie dinge nie, skryf Paulus in 1 Kor. 2:14: “Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word.”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.