ToekomsVenster: ‘Genade en vrede vir julle’

duif-vrede-vredemaker

(Foto: Sunyu/Unsplash.)

Johannes 1:17 – God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

Hierdie woorde uit die mond van Johannes die Doper is ʼn stukkie wat die sleutel bied tot die verstaan van die ou en die nuwe Testament: Moses en die wet, en Jesus en genade.

Dit staan as twee verbonde bekend. Ons ken dit as ou en nuwe Testament, bedeling of dispensasie. Die eerste is die rede vir die tweede. Die tweede is die sin van die eerste. Die eerste kom deur ʼn mens alhoewel God dit aan hom gegee het. Die tweede kom direk uit die hart en hand van God. Die eerste staan as wet bekend. Die tweede word as genade beskryf. Die eerste bring die mens in ʼn verleentheid. Die tweede stel die mens voor ʼn geleentheid: Jesus kan en Jesus het.

Wat die eerste nie kon regkry nie vanweë die verhardheid van die mens se hart word in en deur die tweede verwerklik vanweë die nuwe hart. Die eerste is vlees, die tweede is gees. Die eerste lei tot die dood, die tweede wek tot lewe. Die eerste word in die Pasga gevier, die tweede in die nagmaal. Die eerste sluit die hemel toe, die tweede ontsluit die hemel. Dit is dieselfde mense, God se volk en dit is dieselfde probleem van sonde en ongeregtigheid. Die eerste eindig in ʼn klaaglied, die tweede in ʼn lofgesang.

Lewe jy nog in die ou Testamentiese dispensasie? Probeer jy God behaag deur ʼn voorbeeldige lewe?

Dit is futiel. Jesus, die tweede Adam het die onmag van die eerste Adam deurbreek. Wat die wet nie by monde was om te doen nie het God in Christus ʼn werklikheid gemaak. Die nuwe Testament nooi jou uit tot die lewe, en dit in volheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.