ToekomsVenster: Genoeg plek onder die son

son-strand-duin

Foto: Andy Hutchinson/Unsplash.com

Ek was jare gelede ʼn onderwyser by die Clapham High in Pretoria. Onderwys lê my naby aan die hart en ek sou gemaklik daarmee kon voortgaan, het ek nie geweet dat die Here ʼn ander plekkie vir my het nie.

Ons moet bid vir ons skole. Daar heers ʼn hewige stryd om ons kinders en jongmense te destabiliseer en onderwysers doen hulle werk te midde vele uitdagings. Dit is bekend dat dissipline ʼn enorme uitdaging is.

Opvoeding begin inderdaad tuis en kinders leef dikwels net wat hulle tuis ervaar.

By geleentheid was twee dogters besig om te stry. Een van die onderwysers het toegetree met die opmerking “daar is genoeg plek onder God se son vir beide van julle”.

Die opmerking het my bygebly en is uiters relevant vir ʼn samelewing waar dit somtyds voel asof elkeen net vir homself baklei.

Die lewe is kompeterend en straf. Dit voel soms asof daar nie plek vir gewone mense is nie. As jy nie die toplaag verteenwoordig nie word jy deel van die massa. Alles is op prestasie ingestel. Ons kinders word aan hierdie prestasiesug blootgestel. Sportlui word vroeg identifiseer en na groot skole gelok met allerlei beloftes. So word hulle aan enorme druk onderwerp waar hulle niks meer as ʼn puntemasjien vir die skool word nie.

Daarmee bedoel ek hoegenaamd nie dat kinders se potensiaal, gawes en passie nie vroeg identifiseer moet word en hulle aan gesonde mededinging blootgestel moet word nie.

Dalk stel ek dinge hier in die ekstreem maar ek glo jy hoor wat ek sê. Immers, jy en ek weet hoe dit voel om net ʼn rat in ʼn groot prestasiemasjien te wees.

Daar is plek vir ons almal onder God se son. Hy het ons na sy beeld en gelykenis gemaak. Ongeag taal, kultuur, agtergrond en vermoëns is elkeen deel van God se plan vir en met hierdie wêreld. Dit is nie nodig om mekaar onder te ploeg ten einde vir jouself ʼn plekkie te verseker nie.

Ontdek wie jý is en leef dit voluit.

Help ander, veral hulle wat nie die geleenthede gehad het nie om hul uniekheid te ontdek en uit te leef. So maak ons Suid-Afrika gesond en kom die Koninkryk van God onder en deur ons.

Mag die Here jou vandag uitermate seën.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsie Riekert ·

Groot waardering vir hierdie daaglikse oordenkings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.