ToekomsVenster: Glo soos ’n kindjie

(Foto: Artur Aldyrkhanov/Unsplash.)

Matt 18:1-5 – In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?” Hy het ‘n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.”

Kinders is buitegewoon kosbaar. Kinders gryp die verbeelding aan, laat ʼn mens onmiddellik ontspan, maak oupas en oumas broos en bring baie vreugde in die lewe van hul ouers.

Dit is onbegryplik dat mense kinders sou wou te na kom soos wat heel dikwels in Suid-Afrika gebeur.

Dit is verskriklik om te dink dat daar kinders is wat nie kos het om te eet nie, dat kinders allerlei ontberinge moet verduur. Dit is pynlik dat kinders in oorlogsgeteisterde gebiede moet oorleef, dat ander as kinderarbeid aan slawerny onderwerp word, dat kinders soos items verhandel word op wêreldmarkte.

Ek dink die oordeeldag gaan ondraaglik wees vir mense wat hul aan kinders, vergryp het.

Kinders is veronderstel om sorgvry te wees. In die regte omgewing bekommer kinders hulle nie oor slaapplek, kos en klere nie. Daar is ʼn ma en ʼn pa wat sorg. Solank as wat pa en ma daar is, hoef hulle nie bekommerd te wees nie. In ʼn post moderne wêreld is daar verskeie vorme van gesin wees. Die hoofsaak is dat kinders in ʼn ruimte grootword waar hulle veilig en geborge is.

Covid-19 het ons kinders aan baie spanning kom onderwerp. Om kinders met maskers op ʼn afstand van mekaar op die speelterrein te sien, breek ʼn mens se hart. Seuntjies stoei en dogtertjies speel huis-huis. Hulle kuier in groepies en gesels asof hulle presies weet waaroor dit in die wêreld gaan. Kinders is kontakmense. Dit is te veel gevra dat kinders nie na behore kan sosialiseer en funksioneer nie maar, dit is ons realiteit en dit is ten minste vir nou die aangewese.

Jesus sê ons moet soos kinders word as ons die Koninkryk wil beërwe; onverskrokke, energiek gelowig, liefdevol en amper naïef.

Grootmense dra die wêreld op hul skouers. Hulle soek antwoorde vir elke probleem. Hulle leef met agterdog en vooroordeel. Hulle hou boek van die kwaad. Hulle glo die een oomblik en verval in diepe vertwyfeling die volgende. Hulle vra vrae soos, wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel? Dit is sekerlik nie ʼn vraag wat kinders sou vrae nie.

Is jy bereid om soos ʼn kind te glo?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

U wat my ten beste ken…help my om soos n kindjie te glo en te vertrou dat U die beste weet

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.