ToekomsVenster: God is ’n waarmaker van sy Woord

Foto: pixabay.com

Lammes sal kan rondspring soos takbokke, stommes sal kan sing. Strome water sal uit die woestyn uit bars; daar sal riviere loop in die droë wêreld. – Jesaja 35:6

Van die mooiste berigte om die afgelope tyd te verskyn is, was oor die lieflike reën wat regoor Suid-Afrika geval het. Die beelde van jubelende volwassenes en kinders, van spruite wat afkom en damme wat vol loop, laat ʼn mens jubel. Soos die ribbok van Maleagi wil ʼn mens van pure opgewondenheid bokspring.

Een berig se opskrif lui: “Goeie reën laat die wêreld ontplof”. “Van die beeste,” sê ene Wikus Markram, ʼn boer van die plaas Eden naby Severn in die Kalahari, “se velle blink selfs al is hulle nog op die pad na herstel”. ʼn Anonieme boervrou vertel dat groenigheid oral te voorskyn kom waar reën geval het.

Terwyl ek nadink oor hierdie verhale en getuienisse hoor ek die bekende Afrikaanse lied in my gees “Kyk net hoe val die reën” en die koorgedeelte “reën, reën, lieflike reën” bly draai in my kop.

Ja, reën doen wat ʼn tuinslang, selfs al is daar water, nie kan regkry nie.

Beloftes in Jesaja het te doen met die reën van genade maar ook fisiese reën wat die Here in sy goedheid oor die aarde laat uitsak. Dit is van die mooiste tekste wat ʼn mens kan lees. Die dorre aarde kry lewe, waar vroeër woestyn was begin affodille welig groei. Riviere ontspring in die droë wêreld. Mens en dier begin weer te lewe.

Ons respekteer die boerdery gemeenskap vir hul volhardende gebed en vertroue. God is ʼn waarmaker van sy Woord. Mag Hy fisiese en geestelike reën in wolkbreuk formaat oor ons land Suid-Afrika en sy kerk hier ter plaatse laat uitsak.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.